Die skreeuende hert en die skreeuende Lam

Dr AH Bogaards

Verbeelding van die moderne digter?

Totius se skreeuende hert in sy Psalm 42:1 het al negatiewe reaksies ontlok. So het iemand eenmaal geskryf: "Daar is ook doodgewoon onjuisthede (in Totius se beryming – AHB), soos in Psalm 42, waar die indruk gelaat word dat 'n dors hert (bok) skreeu. Dis ook nie wat in die Skrif staan nie - eerder so 'n bietjie verbeelding van die moderne Psalmdigter".

Woordeboeke, Skrifverklaarders, rabbyne weet dit wel

Dit is inderdaad so dat die nuutste Hebreeuse woordeboek (Koehler) die betrokke woord wil vertaal met *to pant, long for, crave*.

Tog wys Koehler daarop dat Luther, die Siriese vertaling en die rabbyne die woord wel met *cry* vertaal. In die na-Bybelse Hebreeus word die woord gebruik vir *the cry of the deer*, aldus Koehler.

Rabbi Rashi sê: Die Hebreeuse taal het spesifieke woorde om die geluide uit te druk wat besonder is aan verskillende diere. So boots die woord "skreeu" in Psalm 42 die roep van die hert na.

Die rabbi's sê ook: Die hert is die vroomste van alle diere. As die ander diere dors het, vergader hulle rondom die hert en dring by die hert daarop aan dat dit sy oë sal opslaan na die hemel. Die hert grawe dan 'n gat in die grond, druk sy horings daarin en skreeu.

Luther, die Siriese vertaling en die rabbyne weet dus van bokke wat skreeu. Dit is egter nie al nie. Seker die beste kommentaar op die Ou Testament, die van Keil en Delitzsch, sê: Die woord druk nie bloot net 'n stil smag na water uit nie, maar 'n sterk, hoorbare dors. By die lys van Skrifuitleggers wat weet van 'n hert wat skreeu, kan nog talle ander name gevoeg word, onder ander die van Calvyn en die standaard Psalm-kommentaar van Hans-Joachim Kraus.

Ook ander Psalmberymings

Verder weet ek van minstens twee moderne Psalmberymings – om die oues, die Nederlandse van 1773 en die Duitse van Jorrisen, nie eens te noem nie - wat die woord skreeu gebruik.

Die eerste is die Nederlandse beryming van 1968:

Evenals een moede hinde

naar het klare water smacht,

schreeuwt mijn ziel om God te vinden,

die ik ademloos verwacht.

Die tweede, baie skitterende beryming is die Anglo-Genevan Psalter van 1984:

As the hart about to falter,

In its trembling agony

Longs for flowing streams of water,

So, O God, I long for Thee.

Yes, athirst for Thee I cry.

't Hijgend hert der jacht ontkomen

Ek wil tog 'n lansie breek vir die Nederlandse beryming van 1773.

Die deel wat ter sake is, is die volgende:

't Hijgend hert, der jacht ontkomen,

Schreeuwt niet sterker naar 't genot

Van de frisse waterstromen,

Dan mijn ziel verlangt naar God.

G.Dekker skryf in sy boekie oor die Totius-beryming dat Totius 'n veel reëler beeld van die Oosterse natuur kon vorm as die Nederlandse berymers dit kon doen. "Dit herinner my", sê Dekker, "aan die goeie antwoord  wat die digter een keer gegee het aan iemand wat beswaar gehad het teen die feit dat die hert in Ps.42:1 nie meer is 'der jacht ontkomen' nie. Totius het daarop gewys dat die Bybel maar net praat van 'n 'hert wat smag na waterstrome'. Die Hollander in sy waterland het hom nie in die werklike beeld ingeleef nie – vir hom was daar maar een moontlike rede waarom die hert so 'n dors kan hê: deurdat hy agtervolg is, het hy nie geleentheid gehad om te drink nie". In 'n voetnoot sê Dekker verder: "Camphuysen het die ingevoerde Hollandse beeld van die jag nog verder uitgewerk en selfs honde daarby gehaal! 'Een dorstig hart dat voor die honden vlied ...' "[1].

Op Dekker se uitsprake wil ek die volgende aanmerking maak: Die beeld in die 1773-beryming is nié deur die Hollanders ingevoer nie. Dit is van die Jode afkomstig. Van die Joodse verklaarders sê: Die herte is meedoënloos agtervolg deur troppe honde. Die arme diere hardloop totdat hulle 'n diep stroom water vind. Hulle skreeu dit uit en duik in die koel water, wat hulle verfris en beskerming teen die honde verleen.

Calvyn ken ook hierdie verklaring van die jag en die honde. Hoewel hy kritiek daarop het, wil hy nie daaroor twis nie. Sy kommentaar is: "As sommiges meen dat die herte verlang na riviere om van hulle vermoeidheid ontslae te raak, dan is dit al te eng. Wel erken ek dat hulle nuwe krag kry deur hulle in die rivier te werp as 'n jagter hulle in die noute dryf of as honde op hulle hakke is. Dit is egter ook bekend dat herte sekere tye van die jaar as gevolg van ondraaglike hitte meer nog as gevolg van dors na water hyg. Ek meen dat die profeet hierdie dors bedoel, hoewel ek nie daaroor wil stry nie".

Die Kanttekeninge (1637) teken aan: Die dors kan wees hetsy deur gebrek aan water in die algemeen of deur groot hitte, wanneer die hert gejag is, soos Dawid in sy ballingskap inderdaad soos wild deur Saul gejag is.

Dit was lank 'n gunsteling tydverdryf in die Oosterse lande om op die hert jag te maak – met honde.

In Psalm 22:17 (vgl. ook v.21) vertel die Psalmdigter dat honde hom omsingel het. 'n Paar kommentare meen dat jaghonde bedoel word. As die honde die prooi ingehaal het, omsingel hulle dit en val dit aan. Wat daarby aandag verdien, is dat Psalm 22 as opskrif het "Die hert van die dageraad". Hierdie woorde gee volgens sommige verklaarders nie die wysie van die Psalm aan nie, maar die inhoud: Die Psalm handel oor die hert van die dageraad. 'n Hert word dus gejag deur honde. Gill betrek die opskrif op Christus, wat gejag en omsingel is deur die Jode en uiteindelik gevange geneem is. Dit is nie die enigste plek in die Bybel waar die evangelie-vyandige Jode honde genoem word nie (Fil.3:2). Ook die Jode betrek die hert van die dageraad op die Messias.

Openbaring in die natuur

Ek kom nou weer terug by die skreeuende hert.

Wie op ‘n plaas groot geword het en al 'n droogte meegemaak het, sal weet hoe beeste kan bulk (skreeu) vir water. Hulle skreeu dat dit 'n aardigheid is. Boonop loei hulle met hulle koppe hemelwaarts gewend. Daarvan het Totius as natuurkind alles geweet. Natuurlik skreeu die bokke en die beeste nie soos mense nie. Dit is maar net 'n wyse van spreke.

Openbaring in die Skriftuur

Totius het egter nie net Luther, Calvyn en andere en die natuur agter hom met sy beryming van 'n skreeuende hert nie. Hy staan daarmee op die Skrif self.

In die verstaan van die woord "skreeu" in Ps.42 sal ons veral Skrif met Skrif moet gaan vergelyk. Joël 1:20 is kroongetuie om die "skreeu" met "skreeu" te vertaal. Die hele verband waarin vers 20 staan wys in dié rigting. In Joel 1:18 lees ons: "Hoe sug die vee!" Vee kan dus nie net skreeu nie, maar ook sug. In die volgende vers sê die profeet: "Tot U, o HERE, roep ek, want 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer, en 'n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek". Dit is 'n gesug van diere en 'n geroep van die mens tot God en dan vervolg die profeet: "Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer". Die woord "smag" hier is dieselfde as die een wat in Psalm 42 met "skreeu" vertaal kan word. In verband met die voorafgaande "roep" van die profeet na die HERE kan hierdie "smag" ook moeilik anders verstaan en vertaal word as met "skreeu". Immers, die diere "smag" nie na God nie, maar hulle roep na God, omdat hulle smag na water.

Die Bybelse voorbeelde van roepende diere wat skreeu na God om voedsel, kan opgestapel word. In Job 39:3 roep die kleintjies van die kraai tot God om spyse. Die digter van Ps.147:9 sing van die HERE wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep. "Sing daarom voor die HEER u dank, ... wat ... die rawe-nes op milde wys versorg, wanneer dit roep om spys".

Wie probleme het met die skreeuende bok van Ps.42 moet ook probleme hê met die roepende vloed in dieselfde Psalm (v.8) en die sugtende skepping van Romeine 8 om maar net nog enkele voorbeelde te noem.

Woordeboeke (Koehler) is ook nie altyd reg nie. Ons sal moet leer om self, deur die beginsel van Skrif-met-Skrif-vergelyking, te bepaal wat 'n woord beteken.

Die skreeuende Lam

Die man van Psalm 42 is ver weg van die tempel, daar waar die HERE woon. Hy smag na die HERE. Die hele Psalm is een groot skreeu na God. Ek kan my dit nie indink dat die Psalmis sy afgesny wees van God emosieloos beleef het nie. Ons hoor meermale in die Bybel mense in die uiterste nood van hulle lewe na God roep.

Aan die kruis van Golgota kry ons die vervulling van Psalm 42: Ons Here Jesus was afgesny van sy Vader en dan hoor ons: Die Lam het met 'n groot stem geroep (dit wil sê: geskreeu) en gesê: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mt.27:56)

Hebreërs 5:7 maak eweneens melding van die skreeu van die Seun van die mens: "Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs."

Die dorstende hert en die dorstende Hert

In Johannes 19:28 lees ons: "Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors!"

Watter Skrifwoord sal dit wees? Blykens die vervolg kan ons dink aan Psalm 69:22. In Johannes 19:29 staan immers: "En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring".

Daar is egter goeie gronde om die "Ek het dors" ook as vervulling van Psalm 22:16 ("My tong kleef aan my verhemelte") en Psalm 42 te sien.

Juis Psalm 22:19 (die verdeling van die klere) kom in Johannes 19:24 ter sprake. Verder het ook die "volbring" - "omdat Hy geweet het dat alles al volbring was" (Joh.19:28) en "dit is volbring" (Joh.19:30) –alles met Ps.22 te make. Delitzsch skryf by die "Hy het dit gedoen" (Ps.22:32): Hierdie woorde so vol betekenis impliseer die deurvoer van die verlossingswerk. Dit is die laaste woorde van Psalm 22 net soos die "Dit is volbring" die laaste woorde van die gekruisigde Christus is. Die inhoud van die evangelie is dat God volbring het wat Hy beplan het, toe Hy Christus as Middelaar gesalf het. Hy het dit volbring deur Christus deur lyding heen na die troon te lei en deur vir Christus die kruis die leer na die hemel te maak.

Dit is sekerlik nie toevallig dat Psalm 22 juis as opskrif het "Die hert van die dageraad" nie. Daar is 'n verband tussen die dors hert van Psalm 42 en dorslyer van Psalm 22 (my tong kleef aan my verhemelte): Die man van Psalm 42 is ver weg van God se tempel en die digter van Psalm 22 is van God verlate. In beide Psalms word geroep, geskreeu.

Hert? Bok? Wildsbok? Dier? Niks?

Sommiges meen dat dit onbelangrik is of jy in Ps.42 vertaal "hert", "bok" of "wildsbok". Die 2001-omdigting gaan selfs verder: Dit dig dit in die eerste omdigting (Cloete) om met "dier" en in die tweede (Spies) word dit heeltemal weggelaat.

In die lig van voorafgaande argumentasie kan ek my nie daarmee versoen nie.

Ons het te make met die geïnspireerde en daarom altyd veelseggende Woord van God, ook wanneer ons die "Hert" van Psalm 42 en 22 ontmoet.

Ek kry die indruk dat mense dink dat die hert net in Europa voorkom. Die hert was egter nie 'n onbekende boksoort in Israel nie. Trouens, daar was drie spesies van hierdie dier in Palestina in die tyd van die Ou Testament. Die Ou Testament maak ook pertinent onderskeid tussen verskillende boksoorte. Gaan lees maar net Deuteronomium 12:22, 14:5 en 15:22 en ook Hooglied 2:9 en 17.

Ek het nog nie 'n kommentaar of woordeboek raakgeloop, wat meen dat dit in Psalm 42 sommer oor 'n bok in die algemeen gaan nie.

Nie verbeelding nie, maar openbaring

Ek durf nie sê dat die skreeuende hert so bietjie verbeelding van die moderne digter (Totius) is nie.

Verbeelding is openbaring van die menslike gees. Die skreeuende hert is egter nie menslike openbaring nie. Inteendeel, dit is Godsopenbaring. Dit is nie verbeelding van die digter nie, maar openbaring van dié Digter.

 



[1] Dekker, G. 1938. Die Afrikaanse Psalmberyming.Van Schaik : Pretoria. P.25.