Ps.33
 

Oordenking 1

Lees: Psalm 33

Teks: Psalm 33:18-19

Tema: Die troos van die Psalmdigter: Ek glo in God die Vader

Die Psalmdigters was mense soos ons. Hulle het met dieselfde nood as ons te make gehad. Net soos ons het hulle vyande gehad, wat hulle lewens bedreig het; net soos ons het hulle droogtenood geken. Dit was in ‘n droë land soos Israel immers ook nie iets vreemds nie.

Die Psalmiste het egter nie net nood geken nie. Hulle het ook van die troos van die HERE geweet in hulle nood: Hulle het ook – deur die verligting van die Heilige Gees - die antwoord van God op hulle kwellings geken. Daarom het hulle - onder leiding van die Heilige Gees - nie net hulle diepste nood en hulle swaarste kwellings in die Psalms opgeteken nie. Hulle het eweneens God se bemoedigende antwoord op daardie nood in hulle Psalms verwerk.

Dit alles maak hierdie Psalms so dierbaar en kosbaar vir ons vandag: Nou het ook ons immers God se antwoord op die nood van 2001. Nou het ook ons die bemoedigende boodskap van die HERE wat ons sal help om elke teëslag in ons lewe gelowig te verwerk.

Psalm 33 is ‘n lofpsalm, ‘n vreugdelied: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”! Dit is tog verbasend, nie waar nie? Hierdie man weet van vyande wat hom bedreig. Daar is ook sprake van hongersnood. Nogtans juig hy. Ook deur donker nag omgewe sing hy nog sy pelgrimslied, ja, hy lofsing in die nag!

Hoe kan dit wees? Hoe op aarde is dit moontlik? Wel hierdie man weet dat God alles gemaak het, dat Hy regeer en...dat hierdie God ook sy Vader is. Ons kan maar sê: Hy ken die belydenis “ek glo in God die Vader, die Almagtige”. En uit daardie heerlike belydenis van God se Vaderskap put hy troos. Die wete maak hom bly midde in sy moeilike omstandighede. Dit gee hom stof om vrolik te sing.

Eintlik kan ons maar sê: Psalm 33 is ‘n toonsetting van Sondag 9, die Sondag oor God se Vaderskap. Dit is die belydenis “ek glo in God die Vader, die Almagtige” in digvorm, in die vorm van ‘n Psalm!

Oordenking 2

Lees: Psalm 33

Teks: Psalm 33:6-9

Tema: Ons troos: Ons Vader is die Skepper

Die troos dat ons Vader die Skepper is - dit, kan ons maar sê, is die eerste vers in hierdie vrolike lied: die Psalmis besing die Skeppersalmag van sy God. Dit doen hy in vers 6 tot 9.

So magtig is Hy, dat Hy, slegs deur te spreek, alles in aansyn geroep het. Slegs een woord was genoeg om die hemel te maak. En deur die Gees van sy mond het Hy aan die hemeltrans die son, die maan en die leërskare van sterre gestel.

Oor hierdie alvermoeënde krag van God se Woord sing ons in Psalm 33 vers 5:

“ Die HEER se woord is skeppingsmagtig

wat lewe uit die dood gebied.

Hy spreek - dit staan daar lewenskragtig,

Hy roep net en dit het geskied”.

Aan die hemelgewelf het God sy almag aan ons onthul.

En dan, as die digter so ons aandag op die hemel gevestig het, wend hy ons blik na die magtige oseaan, na die see met sy geweldige golwe en onstuitbare waters. En dan sê hy in v.7: ook dit het die HERE gemaak. Hierdie ontsaglike watermassas met hulle enorme, onbeskryflik groote kragte...Hy, die Almagtige, hou die waters in hulle bedding bymekaar, soos iemand water hou in ‘n leersak. Hy hou die waters binne die grense wat Hy daarvoor gestel het, soos ‘n mens ‘n skat in ‘n skatkamer bewaar.

Die magtig see is vir die Psalmdigter ‘n vertoonvenster. Daarin word aan ons, op luisterryke wyse, ‘n vertoning van God se almag gegee.

Maar waarom vestig die digter so ons aandag op die HERE se almagtige Woord, sy Woord waardeur Hy alles geskape het? Waarom laat hy ons sien hoe sterk die HERE is, so sterk dat Hy selfs die yslike oseaan in bedwang kan hou? Wel, hy doen dit, sodat ons nooit klein van God sal dink nie. Ons moet daaruit weet hoe sterk die God is wat ons Vader is, want uit hierdie indrukwekkende voorbeelde is dit tog duidelik: Ons het ‘n Vader wat KAN help. Hy KAN en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gewe (Ps.68:9 berymd).

Ja, Hy kan ook help in ‘n droogte en vir ons sorg wanneer natuurrampe oor ons kom. Want bewys hierdie Psalm nie dat die HERE in beheer is van die natuur en dat Hy die natuur in bedwang kan hou nie? Laat ons dan uit hierdie tentoonstelling van God se almag in skepping en natuur ryklik troos put.

 

Oordenking 3

Lees: Psalm 33

Teks: Psalm 33:10-12

Tema: Ons troos: Ons Vader is die Regeerder

Dit kom ter sprake in vv.10-12.

Toe die HERE alles klaar geskep het, het Hy die wêreld nie aan homself oorgelaat nie. Ons bely immers dat die HERE, nadat Hy die hemel en aarde geskep het, dit deur sy voorsienigheid nog onderhou en regeer. Dit beteken: Hy het die teuels van die wêreldgeskiedenis in sy hande. Hy is in beheer van alles en in besonder is sy hande in hierdie koningsheerskappy van Hom oor sy volk uitgestrek.

Ook dit lig die Psalmdigter met ‘n voorbeeld toe. Want in vers. 10 tot 11 sê hy: Vyandige heidene mag miskien planne beraam teen die volk van God - die HERE, die Vader van sy volk, maak al hierdie planne tot niet. Die volkere mag planne koester om God se kinders te vernietig - die HERE verydel daardie planne en al hulle gewoel is tevergeefs.

En as die Psalmis daaraan dink, aan hierdie wonderlike heerskappy van sy Vader, aan sy besondere sorg daarin vir sy volk, dan juig hy. Dan sing hy: “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (v.12).

Leer daaruit dat u nie alleen ‘n Vader het wat kan help nie, maar ook een wat dit daadwerklik doen. Hy regeer. Die wêreldgeskiedenis is in sy hande en ook my persoonlike lewensgeskiedenis. En in hierdie heerskappy van Hom dink Hy in die besonder aan sy volk.

Hy het ons heil en ons beswil op die oog ook wanneer Hy allerlei nood op ons lewenspad bring.

Oordenking 4

Lees: Psalm 32 en 33

Teks: Psalm 33:16

Tema: God is ons Vader om Christus wil

Dit is nie sonder rede dat ek vandag Ps.32 en Ps.33 opgee nie. Hierdie twee Psalms hoort bymekaar. Ons bely immers dat die Heilige Gees die groot Bybelskrywer is. Hy is dus ook die Opsteller van die Psalmboek. Wanneer Hy daarom Ps.33 laat volg op Ps.32, is dit met ‘n baie besondere bedoeling. Dan sit daar ‘n rede daaragter. Dan sit daar ‘n les vir ons in opgesluit.

Laat ek daarom die samehang van hierdie twee liedere aan u verduidelik. Ps.32 is ‘n Christus-lied. Dawid sing daarin oor die wonder van skuldvergiffenis. Dit wil sê: Hy juig oor wat Jesus Christus vir ons gedoen het: Hy het ons skuld uitgedelg. Daarom eindig Ps.32 op so ‘n jubeltoon:

“Regverdiges, laat hoor die blye tyding!

 Sing voor die HEER ‘n lofsang van bevryding,

 ‘n sang wat juig van skuldvergiffenis.

 Sing, wie opreg van hart en wandel is”.

En dan begin Ps.33. En daardie selfde hoë noot waarmee Ps.32 geëindig het, dit word in Ps.33 weer opgeneem en voorgesit:

“Sing vrolik, hef die stem na bowe;

 regverdiges verhef die HEER!”

Ek wil die samehang tussen hierdie twee jubelsange so saamvat: Ps.32 sing oor die vreugde van skuldvergiffenis, Ps.33 juig oor die vrug van skuldvergiffenis. Ps.32 jubel oor die skuldbetalende werk van Christus, Ps.33 juig oor die resultaat daarvan: die Vaderskap van God. Want deur die kruis en danksy Golgota, deur en danksy Jesus  is God nou weer ons Vader wat ons elke dag wil versorg en wil bewaar.

Ons kan dit ook so opsom: omdat Ps.32 in ons Bybel staan, daarom kan ook Ps.33 daar staan. Want Ps.32 sing van Christus en Ps.33 verkondig God se Vaderskap danksy Christus, danksy sy werk wat in Ps.32 beskryf word. In Ps.32 het u die wortel, in Ps.33 die boom, die heerlike vrugte. Sonder die wortel sou daar geen boom, geen vrugte gewees het nie. Maar danksy die wortel van Ps.32 is daar nou die ryk vrug van Ps.33. Golgota is die wortel, God se Vaderskap is die vrug.

In vv.16 en verder roep die Psalmdigter ons nou op om op hierdie goeie en almagtige God en Vader van ons en op Hom alleen te vertrou. Ons moet tog nie - in die nood van ons lewe - op menslike hulpmiddele staatmaak om ons te red nie. Want:  "’n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n held nie gered deur groot krag nie. Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie". Daarmee sê die Heilige Gees: wie byvoorbeeld op ‘n magtige leër vertrou, sal bedroë uitkom. Want nie die mens nie, maar God regeer. En as dit gaan om oorwinning, gee nooit menslike mag nie, maar die HERE alleen die deurslag.

Dit geld natuurlik nie alleen in ‘n oorlogsituasie nie. Dit gaan om alle tereine van ons lewe. In ‘n droogtenood, in ekonomiese nood en aan watter nood ons ook al mag dink - nooit moet ons op mense vertrou om uitkoms nie, maar op ons liewe, alvermoeënde Vader alleen.

Hy kan nie alleen help nie. Hy wil dit ook doen. Hy wil dit doen vir diegene wat klein word voor Hom, vir die wat in groot afhandlikheid alles alleen verwag van hulle goeie Vader in die hemele alleen. Daarom berym Totius ook:

“ Maar die HEER se oë straal met mededoë

  op wie, klein van krag,

  voor Hom stilverslae in hul donker dae

  op sy goedheid wag”.

En wie so vertrou, sal nooit terleurgestel word nie. Want:

“ Sy arm ontbloot Hy uit die hoogte (Hy gryp in)

  en red hul siele van die dood.

  Hy sorg vir hul by somerdroogte,

  in sware tyd en hongersnood”.

Ja, Hy red van die allergrootste nood, ja, selfs van die dood. Dit kan Hy doen. Dit het Hy immers bewys in die opstanding van Christus. Sal Hy dan nie in ons ander nood ook kan help nie, ook in watter nood ook al van sy kerk nie?

Daarom (selfs=):

“ In die grootste smarte bly nogtans ons harte

  op die HEER vertrou”.

Want:

“ Hy, ons skild, Hy wyk nie, en ons hulp beswyk nie

  waar ons hart op bou”.

Laat ons in ons nood nooit vergeet nie: danksy Christus het ons weer ‘n Vader.

Laat ons in ons nood nooit vergeet nie: ons het ‘n almagtige Vader.

Laat ons nooit vergeet nie: Hy regeer. Hy is in beheer ook van ons lewens. En Hy weet wat goed is vir ons.