Ps.3
 

Oordenking 1

Lees: Psalm 3
Teks: Psalm 3:6
Tema: Onrus

Nêrens in die Bybel word die kerk van die Here 'n rustige tyd hier op aarde belowe nie. Inteendeel, die lewe van God se kinders word gekenmerk deur hewige stryd en intense onrus. Daarvoor sorg die duiwel.

En tog, hoeveel dinge daar ook al in die lewe is wat ons onrustig en bekommerd kan maak, die lewe van die gelowige word gekenmerk deur rus midde-in 'n onstuimige see, midde-in 'n oseaan van onrus. Dat die HERE daar is en dat Hy oor ons waak, gee ons heerlike rus en kalmte.

Die tyd waarin hierdie Psalm gedig is, was seker die onrustigste in Dawid se lewe. Die opskrif sê presies vir ons wanneer Dawid dit geskryf het. Dit was "toe hy gevlug het vir sy seun Absalom". Dit was dus in die tyd toe Absalom rewolusie teen sy vader gestook het en probeer het om hom te onttroon.

In vers 2 en 3 vertel Dawid hoe ernstig die toestand was: "O HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op". Groot getalle van sy volk het die kant van sy seun gekies. Ook sy vernaamste raadgewer, Agitofel het die kant van Absalom gekies.

Maar nie net die veelheid van sy teëstanders het Dawid diep geraak nie. Ook wat hulle gesê het, het hom pynlik getref. Want baie het van Dawid gesê: "Daar is geen heil (geen verlossing) vir hom by God nie". Waarskynlik moet ons hierin 'n sinspeling sien op sy owerspel met Batseba. Na aanleiding daarvan het sy vyande vir hom gesê: met jou sonde het jy die genade en die hulp van God verbeur. Nou kan jy maar vergeet daarvan dat God jou sal red uit die hand van Absalom.

As ons egter hierdie fase in Dawid se lewe in sy volle diepte wil verstaan, sal ons in gedagte moet hou wie en wat Dawid was: hy was geen gewone koning nie, maar hy was die gesalfde van die HERE. Deur hom het God regeer. Ja, Dawid het ook die Christus, die groot Koning van Israel, afgebeeld. Daarom was Absalom se rewolusie ook geen gewone opstand nie, maar 'n poging van die Satan om die gesalfde van die HERE van sy troon te stoot.

En dan moet ons nog 'n stappie verder gaan en sê: in hierdie Psalm is uiteindelik nie Dawid aan die woord nie, maar die groot Seun van Dawid, ons Here Jesus Christus. Hier word geprofeteer wat Hy sou ervaar. Want hoe het die duiwel nie van die begin van sy aardse lewe al probeer om te verhinder dat Christus die troon sou bestyg nie. En hoe het die duiwel ook nie die volk van die Here daarvoor ingespan nie. Juis die Fariseërs en die Saduseërs - kerkmense - was sy grootste teëstanders. En uiteindelik was die nie die heidense Romeine wat Hom gekruisig het nie, maar sy eie volk. En een uit die intieme kring van sy dissipels, Judas Iskariot, het hom verraai. En soos Dawid die spot van sy eie mense moes aanhoor - "Daar is geen heil vir hom by God nie" - so moes Jesus aan die kruis hoor: "Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het" (Mt.27:43).

Maar by Dawid en by Christus stop die duiwel nie. Ook u is die teiken van sy aanslag. Hoe hard probeer die Satan nie om die kerk te verniel en God se kinders te verlei nie. En as dinge sleg gaan met ons, kom die duiwel met sy hoonstem: God het jou vergeet; jy is 'n te groot sondaar, nes Dawid, daarom straf God jou, daarom wil Hy jou nie help nie.

Oordenking 2

Tema: Rus ondanks die verskriklike onrus

Wie van ons ken dit nie: slapelose nagte as gevolg van intense kommer, ouers wat nie kan slaap nie, as gevolg van bitter sorg oor 'n kind, gelowiges wat tot in hulle siel toe onrustig en besorgd is oor die toestand van die kerk. Die onrus van die lewe besorg ons onrustige nagte.

Maar nou moet ons gaan kyk hoe Dawid en Christus gereageer het op die geweldige onrus in hulle lewens. En die merkwaardige is: by hulle sien ons geen onrus nie, maar juis 'n heerlike rustigheid:

· In vers 6 hoor ons Dawid bely: "Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak…"
Is dit nie ongelooflik nie! In daardie tyd van hoogspanning in sy lewe, kon Dawid tog rustig slaap. Weet u hoekom? Omdat hy innerlik rustig was. Sy probleme het hom nie onrustig gemaak nie.

· Dieselfde sien ons by Jesus tydens sy aardse omwandelinge.

Ek wys u op een episode in Christus se aardse lewe. Ons Here Jesus en sy dissipels was in 'n skuit op weg na Gadara toe 'n groot storm opgesteek het. So erg was dit dat die skuit toe was onder die golwe (Mt.8:23-27). Het dit Jesus toe intens bekommerd gemaak? Want u moet weet: dit was 'n poging van die Satan om te verhoed dat Jesus die duiwelbesetene van Gadara sou verlos. Nee, staan daar, "maar Hy het geslaap". Hy het geslaap.

Dit laat 'n mens dadelik vra na die geheim van Dawid en Christus se rus.
 
 

Oordenking 3






Tema: Die geheim van Dawid en Christus se rus te midde van soveel onrus

· Die geheim hoor ons in vers 5: "Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg". Dit was Dawid se geheim: die gebed.

Ook in 'n ander Psalm wat eweneens in die tyd van Absalom se opstand gedig is, praat Dawid daarvan. Ek dink met name aan Psalm 62: "… my siel is stil tot God…". Buite bruis dit van opstand teen hom, is dit pure onrus. Maar innerlik is dit stil en rustig by Dawid. En dan wys hy ook daar die weg vir sy medegelowiges: "Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig!".

Maar Dawid was nie net 'n gebedsman nie. Hy het ook vertrou dat God hom sal verhoor. Want hoor maar wat sê hy: "Luid roep ek die HERE aan en,….Hy verhoor my van sy heilige berg". Op daardie tydstip was verlossing nog nie eens in sig nie, maar so seker was Dawid dat God hom sal verhoor dat hy dit kan sê asof dit al klaar gebeur het.

Hoe kon Dawid - verskriklike sondaar wat hy was - so seker wees dat die HERE hom sal verhoor? Dit lê opgesluit in daardie woorde: "Hy verhoor my van sy heilige berg". Daar op die berg Sion het die HERE in die midde van sy volk gewoon. Daar het die ark gestaan en daar het die priesters daagliks die offers gebring om die sondes van die volk te versoen. Ja, die heilige berg het gespreek van die groot offer van Golgota en op grond van daardie offer was Dawid seker: die HERE sal my verhoor.

En nadat Dawid hierdie gebed uitgespreek het, volg die woorde van ons teks: "Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak…". Die gebed het hom rustig gemaak. Hy het vertrou dat sy lewe veilig is in die HERE se hande. Hy was oortuig dat die HERE vir hom 'n skild sal wees wat hom teen die vlieënde pyle van sy teenstanders kan beskerm.

Hoor maar hoe straal Dawid se vertroue uit die woorde van vers 7: "Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie". Hoe groot die oormag ook al was en hoe sterk die vyand - dat het geweet: die HERE is magtig om hom te bewaar.
· Maar nou wil ek weer die lyn deurtrek na Christus. Dit was 'n kenmerk van ons Here Jesus se lewe hier op aarde dat Hy telkens gebid het.

So sien ons Hom, kort voor die swaarste oomblik in sy lewe, die dag voor sy kruisiging, bid in die tuin van Getsemane.

En wanneer ons Here Jesus by die aand van sy aardse lewe kom en die oomblik aanbreek dat Hy nie maar net gewoon gaan slaap nie, maar gaan ont-slaap, gaan in-slaap in die dood, dan hoor ons Hom bid. Ja, wanneer die nag van die dood oor Hom daal, dan bid Hy die gebed van sy vader Dawid in Psalm 31 (v.6) : "Vader, in u hande gee ek my gees oor". Dan bid Hy die gebed wat ook die aandgebed was wat Joodse kindertjies gebid het voordat hulle gaan slaap het. Dan lê die Seun van God se lewe in die hande van sy hemelse Vader en Hy doen dit met absolute vertroue dat sy Vader Hom ook na drie dat sal laat ontwaak, dat sy Vader vir Hom 'n skild sal wees selfs dwarsdeur die donker nag van die dood heen.

Maar ek wil u ook ten slotte wys op die heel besondere einde van hierdie gebedspsalm:

* Dawid eindig met die woorde: "Laat u seën wees oor u volk". Die koning bid nie alleen vir homself nie, maar ook vir sy volk.
* En weet u: daarin was Dawid ook 'n voorbeeld van ons Here Jesus Christus. Hieruit mag ons tot ons grootste troos leer: die groot Koning en Herder van die skape bid vir sy volk.
In die verband wil ek u net op een gedeelte in die Nuwe Testament wys, naamlik Johannes 17. Die opskrif daar lui: die gebed van Jesus vir sy dissipels. Dit is 'n gebed wat die Here vir sy dissipels gebid het terwyl Hy nog op aarde was. Maar dit is ook meer. Dit is die gebed wat ons groot Voorbidder ook nou nog bid vir sy kerk van alle eeue. In Johannes.17 kry ons as't ware 'n kykie in die hemel. Die sluier word weggeneem en ons mag sien wat die Seun nou, op hierdie oomblik vir ons doen: Hy pleit vir ons by die Vader! Ons hoor Hom bid dat die Vader ons van die Bose sal bewaar.

En weet u: hierdie gebed word altyd verhoor, want ons Hoëpriester pleit dus op grond van sy eenmaal volbragte offer: Vader, wil U hulle bewaar, OMDAT Ek vir hulle betaal het. Dit is die mees volmaakte pleitgrond. Daarna luister die Vader altyd. Die offer van Golgota is die vaste waarborg en onfeilbare versekering dat die Vader dié gebed van ons Here Jesus sal verhoor en ons inderdaad sal bewaar. Daarom is die kerk se toekoms gewaarborg en daarom is die volk van die HERE so veilig as wat maar kan kom. Want die Seun sal dra ons op aan die veilige hoede van die almagtige Verbondgod.

Wat 'n troos is dit nie: wanneer ons nie meer kan bid nie, is daar Iemand wat vir ons pleit. Wanneer ons bid, is daar Iemand wat vir ons intree en sy voorbidding is die waarborg dat ons nooit verniet sal bid nie. Hoeveel rus moet dit ons nie gee in 'n wêreld vol van onrus nie.

Iemand noem die Psalms God se heilsapteek vir siek siele en daarmee is so 'n ontsaglike groot waarheid uitgedruk. Ons kan soms so siek van kommer en onrus wees. En dan gaan ons na die gewone apteek om slaappille te kry of ons vlug na die ontspanningsklub of ons probeer op ander maniere om te vergeet van al ons probleme.
Hierdie Psalm wys ons egter die regte weg: deur die gebed na die HERE toe.