MISLUKTE MESSIAS, EWIGE KONING

Ds. G.B.S. Pasch

 

Lees: Johannes 6 : 1 - 15 en Johannes 18 : 39 - 19 : 16

Teks: Johannes 6 : 15 en 19 : 15

Sing:     Ps. 48 : 1

            Ps. 25 : 7

Ps. 118 : 8, 11

Ps. 149 : 1, 2

 

15 En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.”

 

15Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”

 

Met hierdie gebeurtenis aan die see van Galilea, met die uitbeelding van hierdie omgewing, met die bepaalde en tog sobere aanwysing van die tyd van die jaar, staan ons in die volle en lewendige milieu van die Joodse rebelle, op die geskiedkundige aksieterrein van die Galiles Vryheidsparty.  Dit was Aprilmaand, die Paasfees was op hande en aan die oewers van die see was die gras groen.  En elke jaar was die gras met Paasfees groen, asof dit die begeerte en vervulling en die heerlikheid van die Messiasdroom afgebeeld het.  Elke jaar weer het die hoop saam met die groen heuwels gegroei: Sal die Messias miskien hierdie Paasfees sy ryk proklameer?  En nêrens anders het hierdie hoop tot sulke hoogtes opgestoot as juis hier aan die see van Galilea.  Die see van Galilea - op hom die daaglikse vreedsaamheid van eenvoudige vissers wat elkers maar, opnuut hoopvol, die nette uitgooi.  Langs hom die grotte, die gate, die hutjies waar die vryheidsliewendes, die dwinglandyhaters, die verbete guerilla-vegters, skuiling soek en vind.  Hierdie manne, hierdie vroue, hulle seuns en hulle dogters, is konsekwente mense, hulle is mense van een koers - hulle ken alleen die swaarpad, die weg met baie offers en min verwagtings.  Hulle ken alleen één koersbepaler, één uitgangspunt - Die Vryheid.  Hulle loop wakker, aldeur maar soekende: Die Messias.  En dit is nou al amper twee jaar dat hulle hink op twee gedagtes.  Maar nou, na die gebeurtenisse van die afgelope dae, nou na die dood van Johannes die Doper, bly daar maar een Man oor wat moet dopgehou word - Jesus van Nasaret.  Hoe nader die Paasfees kom, hoe meer dring hulle wensdinkery hulle na Jesus toe.  Hulle is reeds op pad Paasfees toe. Sou die vryheidsmesse in hulle boesem gereed gelê het?  Jesus moet hulle nie ontglip nie.  Hierdie mense, hulle soek om Jesus koning te maak, hulle soek om Hom as Messias te verklaar.  Hulle is konsekwente mense, hulle weet wat hulle wil hê.  En tog ‘n jaar later skreeu hierdie manne, wat Hom ‘n jaar tevore Jerusalem as koning wou binnejubel, saam met Fariseërs en Skrifgeleerdes: Kruisig Hom! Kruisig Hom!  En by hierdie twee gedagtes wil ons graag die aandag bepaal:

1.         Maak Hom koning!  Maak Hom Koning!

2.         Kruisig Hom! Kruisig Hom!

 

I.  Daar is in die dae van Christus seker geen ander saak wat so naarstiglik nagespeur is, na verlang is, voor gebid is deur die verlangende Ou Testamentiese gelowiges, as juis die verlossende, heerlike verskyning van die Messias nie.  Die volk het swaar gedruk gegaan onder die harde hand van die veroweraar, onder die kastyding van renegate-vorste.  En elke figuur wat by die putte van Galilea wat in die vissershutte sy vryheidsbegeerte driftig en daadywerig gelug het - van hom is gevra: Is hy nie miskien die Messias nie?  Ag, wanneer kom die Messias tog?  En toe die Romeine naas die bestaande tempelbelasting, van elke Jood ‘n persoonlike belasting aan die Keiser eis, het ‘n vloedgolf van verset en bitterheid deur die volk gehuiwer.  Alleen aan die God van hemel en aarde is hulle iets verskuldig en geen aardse vreemde vors, mag uit hulle hand iets ontvang nie.  En uit hierdie verset is daar in Galilea, aan die oewers van sy see, die Vryheidsparty - die Lestes (?) gebore.  Die program van aksie en ideaal, kort en kragtig: Naas Jehowa geen sterfling as Heer erken, en laat ons die Nasionale opstand begin.  En die stigter, Judas, die Galileër, het met sy vryheidsywer en in die waan self Messias te wees, onverskrokke die Romein die hoof gebied - want die Messiaanse ryk moet voorafgegaan word deur Nasionale herstel en wêreldverowering.  Maar - Judas die Galileër sterf in die stryd en was dus die Messias nie.  En toe sou ook hier in Galilea, aan manne en seuns wat die vryheidsdors en die Lestesdiens erflik in die bloed gesit het, in die sinagoge gehoor het: Só en só moes die Messias wees: Soos Moses sal hy die volk uitlei en hy sal manna gee en tekens doen groter as Moses, en hy sal wees uit die geslag van Dawid - ‘n nasionale redder wat sal verlos en oorwin en die eer terugbring na die huis van Jakob.  Die koningshuis sal in Jerusalem herbou word.  Heerlike dag en jare en eeue sal dit wees.  En die Lestes het die Romeine geteister met guerilla-aanvalle op kolonnes en voorrade sodat uit hierdie poging en stryd miskien die Messias gebore mag word.  Toe het Johannes gekom en sy woorde: Bekeer julle, bekeer julle, het by hulle aweregse ingang gevind.  Hy maak gereed vir hulle Messias - of - miskien is hy die Messias self.  Maar Johannes is doodgemaak en is dus die Messias nie.  En nou - maande al volg hulle Jesus, groter en kleiner groepe.  Hy genees siekes, verander water in wyn, Hy maak die vissers se nette vol.  Miskien!  En nou is die Paasfees op hande.  Die berig van Johannes se dood het hulle verwagtinge in duie laat stort, maar hulle ook opnuut bitter gestem.  En as Christus, self treurig, met die bekende boot die see oorsteek volg hulle te voet, die Jordaan deur en hulle wag Christus aan die oostekant in - verwagtend.  Waarom sou Hy na hierdie verlate plek op koers wees?  Wil Hy nie dalk hier begin met ‘n nuwe opstand nie?  Die opstand?  Sal Hy nou eindelik begin?  Eindelik die leiding neem?  Op die groen gras het hulle gesit.  Feesgangers.  Bonte mengeling van kleure en tussen hulle het Jesus deurgeloop, genesende, geselsende oor die koninkryk van die Hemele.  Die koninkryk van die Hemele, en sonder om te verstaan, alleen maar verwagtend het Lestesveterane Hom aan- en agternagestaar.  Sy woorde wou hulle altyd maar inkeer in die kanale van eie begeertes en verlangens.  Dit het laat geword en daar was nie voedsel nie en Hy het hulle laat sit en die vyf brode geneem - garsbrode, en twee vissies, kurpertjies.  Die voedsel van die armes, die nederige vissers - garsbrode en kurpertjies.  Christus het gedank - ook Hy sou die algemeen-gebruikte dankgebed geprewel het: Geseënd is U, Here onse God, koning van die wêreld, wat brood laat voortkom uit die aarde.  Hy het uitgedeel aan sy dissipels en hulle aan die duisende.  Hulle almal het die broodjies gesien en nou gesien dat hulle almal versadig raak - en dat daar oorbly.  Hulle het in ekstase aan Moses gedink - dat die Messias soos hy sal wees en brood gee soos Manna.  En wat gister en eergister hoop en vermoedens was, wat netnou nog vrees was, dat dit nie so sou wees nie - met één daad het dit waar geword en duidelik: Hy is dit, hy is dit!  Soos ‘n ruising deur die duisende.  En die ruising word ‘n dwingende mag: Ons gaan, ons wil Hom koning maak.  Maak Hom koning, maak Hom koning!  Al wat rebel en Galileër was - hoe staan die vryheid nie voor hulle in sy tasbare werklikheid nie.  Hierdie sal die Paasfees wees waarop die Messias sal ingryp.  Hulle is nou 5,000, maar as hulle Jerusalem nader sal dit 50,000 wees, duisende strydbare manskappe - en oor brood hoef hulle nie bekommerd te wees nie - die Messias is ook broodmaker.  En die wapens in hulle boesem.  En Christus - Hy het weggegaan.  Hy alleen.  Hy alleen, want ook sy dissipels was Galilese manne, in murg en been rebelle en sou gedeel het in die begeerte om Hom koning te maak.  En teenoor hulle blydskap, teenoor hulle jubeling: Hy is die Profeet - Christus in eensaamheid.  Netnou het Hy met hulle gepraat oor die koninkryk van die Hemele, en hierdie Koning wat oor sy koninkryk gepraat het wat aan Hom gegee is deur sy Vader - hierdie Koning wil die mense koning maak.  Hoe sou sy eensaamheid nie blydskap gewees het as die duisende uitgejubel het: U is Koning, U is die Christus!  Hoe groot sy vrede as sy dissipels die skare sou reggehelp het: Hoe kan julle Hom wil koning maak wat van Ewigheid af Koning is.  Maar nou - niemand wat sy sending verstaan nie. Aan 5000 van sy eie volk, van die deel van sy volk wat Hy so goed ken, waarmee Hy daeliks gespreek het, aan hulle is nie geopenbaar dat hierdie wonder, hierdie spysiging in verband gebring moet word met die Paasfees, dat Hy hulle die brood van die lewe gee.

 

Pyn en eensaamheid - Christus se deel. Wat bedoel is om hulle oë oop te maak, wat bedoel is om hallelujas en lofgesange te laat sing tot ere van God vir sy ewige verlossing uit die diensbaarheid van die sonde, daarin sien hulle die tydelike, die verlossing uit diensbaarheid van die Romeine, vervulling van hulle rebelle-ideale. Hulle het op die groen gras langs die see van Galilea die wonder aanskou wat afbeeldsel is van die wondergawe van die brood van sy liggaam en tog daaragter nie gesien die wonder van die krag van God nie. Hulle kies garsbrood en droë kurpertjies liewer as die brood wat laat lewe tot in ewigheid. Hulle het die groot Middelaarskoning met menslike maatstawwe gemeet en hulle gevolgtrekkings: aards, gewone alledaagse koning. Wat ‘n neerhaling. Hoe groot die omlaagskeuring. Sy hemelse koningskap wil hulle hier trag te vernietig. Uit die ewige heerlikheid wat Hom wag, waar die engele sy diensknegte is, wil hulle Hom koning maak om gedien te word deur hulle eie, brose, swakke vissersvermoë. En nog meer as dit alles - God wat in sy onverstaanbare genade, in sy skeppende krag hierin geopenbaar is, word deur hulle ontken en vertrap deur laagvloerse: Maak Hom koning, maak Hom koning. Hulle wat die besondere openbaring van die Wet en die Profete gehad het. Dit is die magte van die duisternis wat in hulle werk om die waaragtige koningskap van Christus te vernietig.

 

Pyn en eensaamheid - Christus se deel. “Maak Hom koning” is in sy wese reeds “Kruisig Hom, weg met Hom.” Want ook nou verstaan hulle Hom nie. Hier al verwerp hulle die wysheid van God. Sy ware koningskap is vir hulle dwaasheid. Sy eensaamheid hier aan die see van Galilea is reeds sy Gethsemane, is reeds sy van-God-verlatenheid sodat ons van God geken kan word en lewe. En hulle geroep “Maak Hom koning”, moes in Christus se ore ‘n ander weerklank gevind het. Daarin het Hy reeds gehoor die prelude, die voorgelui van sy kruisiging. Die refrein van hierdie Joodse komposisie wat ingelui is met die dartelende: Maak Hom koning, sou weldra deurslaan in die vals basnote van hulle verdraaide Messiasverwagting: Kruisig Hom, kruising Hom!

 

En tog, wat hier sy vernedering was is al in wese ons verheerliking. Sy vernedering is juis wat hulle bedoel as eerbetoon, as die hoogste Messias-eer. En omdat dit vir Christus vernedering is en Hy die eensaamheid verkies bo hulle Messiaskoningskap, daardeur het Hy reeds in beginsel sy Messiasroeping vervul waardeur daar vir ons ons verheerliking gekom het. Hy is nie daar koning gemaak nie - en daarom is Hy juis die Christus. En aan God die dank dat deur die hoogste menslike eerbewys, wat deur die magte van duisternis daarop toegespits was en gebruik was, die koningskap van Christus nie vernietig is nie en onvernietigbaar geblyk het ook teen hierdie slinkse aanval. Christus is ewige Middelaarskoning aan Wie alle dinge onderwerp is, en bly, totdat Hy aan die voleinding dit wat aan Hom gegee is aan die Vader teruggee en dan verheerlikingsmiddelaar bly tot in alle ewigheid.

 

II. Kruisig Hom, kruisig Hom! Nog maar ‘n jaar voor die volgende Paasfees - dié Paasfees, en sy dissipels het sy roeping nog nie verstaan nie. Maar die Messiasverwagting wat hier aan die see van Galilea één valse inslag gehad het by die vryheidsoekers sowel as by sy dissipels word hier deur die verkiesende genade van God in twee geslaan: Koningmakers en kruisigers en daarom verdoemdes en: Uitverkorenes en Koningerkenners en daarom verheerliktes. Van nou af word aan die Syne die doel van sy lyde en sterwe bekendgemaak - ‘n opvoeding en groei in die ganade van hulle wat geroep is. En by hulle wat nie die genade ontvang het wat aan kindertjies bewys is nie, by hulle het die sondige agtergrond in wese gebly waaruit hulle : “Maak Hom koning”, gebore is.

 

So was daar ook in Jerusalem vryheidsoekers, manne wat in murg en been die Romeinse tirannie gehaat het, wat ook die wetgewing om belasting aan die keser te betaal, verafsku het. Maar hierdie wetgewing dring hulle nie tot die wapens nie, tot die stigting van ‘n versetorganisasie nie. Wat baat verset teen die magtige militêre mag, teen die wrede veroweraar wat doodmaak elkeen wat hom verset. Nee, in skynbare gewillige diensbaarheid betaal hulle getrou belasting aan die keiser - elke Fariseër en skrifgeleerde. En elke teken van opstand werk hulle teen omdat dit nuttelose verspilling van goeie bloed en kragte is. Maar ook by hulle leef, floreer, die Messiasverwagting en hulle program van aksie en ideaal word ook kort en kragtig gestel: Geen opstand totdat die Messias kom. Hy sal Fariseër wees, Hy sal die vryheid bring en sy gunsgenote sal sy veldhere en raadgewers wees. En teenoor die Lestes is hulle program: Vroegtydige verraad van enige opstand. Gelukkig is Judas die Galileër dood en van Johannes het hulle eiemondig die versekering: Ek is die Messias nie. Maar hierdie Jesus - hulle spioeneer al maande lank baie gereeld en hulle vrees, Hy gaan ‘n opstand bewerkstellig en hy is nog nie die Messias nie. Sy invloed by die volk neem toe en vooraf weet hulle dat so ‘n opstand ‘n mislukkig sal wees - Hy is die Messias nie. En uit hulle Vaderlandsliefde en uit hulle sorgsaamheid oor onnodige bloedvergieting en uit hulle vryheidsbegeerte hierdie besluit: Hulle sal ‘n sluipmoord uitvoer, hulle sal stilletjies soek om Hom dood te maak sodat die volk daarvan nie weet nie. Maar in die saal waar die nagmaal deur Christus ingestel word, waar die gemeenskap met die liggaam van Christus self bevestig is, waar die Syne in wie God Christus geopenbaar het, die brood van die ewige lewe deelagtig word, hoor Judas die gesprek gaan oor wie sal die meeste wees. En sy interpretasie, hy die onbegenadigde, hulle stry oor die poste in die aardse Messiasryk. En sou dit hierdie berig wees wat Hy oordra aan die Sanhedrin: Hulle stry al oor die poste en daar sal sekerlik ‘n opstand wees hierdie Paasfees. Nou nie meer sluipmoord waar niemand van weet nie, daarvoor is daar te veel mense in die stad. Ten alle koste moet ‘n opstand verhoed word - want Hy is nog nie die Messias nie. En nou staan Christus voor die volksmenigte en voor Pilatus. Aangeklaagde. Die volksmenigte - daarby is die Fariseërs en die skrifgeleerdes en die Galileërs, sy haters en sy eertydse navolgers wat Hom koning wou maak ‘n jaar gelede. Fariseërs, en skrifgeleeres: Hy is die Messias nie; en die volk: Hy kon die Messias gewees het as Hy na ons geluister het. Sy eertydse gewillige volgelinge, sy koningmakers wat gister nog ‘n nuwe opvlamming van die hoop beleef het dat Hy tog die Messias is - Hosannas geskreeu het voor die poorte van Jerusalem - sy navolgers, op hulle mantels nog die stof- en trapmerke van die esel van gister - hulle almal saam staan in een malende, skreeuende menigte saam met die ontkenners van sy Messiasskap, saam met sy haters, saam met sy gevangenemers en veragters.

En die keuse staan tussen Barabas en Jesus - tussen die mislukte Messias en ‘n partyleier wat nie geskroom het om vir die vryheid sy lewe en lyding te gee nie. Tussen Jesus wat gelate toelaat dat die Messiasgedagte bespot word en ‘n Lestesleier wat deur daad en lewe getoon het dat hy die vredesryk van die messias wil voorberei. Hier is nie ‘n keuse tussen ‘n rower, misdadiger, tronkvoël en Christus nie, maar die keuse is veel meer subtiel, en des te gevaarliker: tussen ‘n nasionale held en Christus.

 

En hulle uitroepe is nie net die negatiewe, die Barabasverkiesende nie, maar die sterk positiewe, verwerping van die mislukte Messias, van die onrusstoker: Kruisig Hom - weg met Hom! Terwille van die gawe van garsbrood is hulle reaksie: Maak hom koning! Maar as Hy hulle die brood van die lewe wil gee, is die dringende en eisende begeerte: Kruisig Hom! Albei uitroepe, albei begeertes gebore uit die verharding van hulle harte. En nou word die eensaamheid en die pyn wat Hy beleef het aan die see van Galilea weer werklikheid, die hardste, ontsettende, ellendigste werklikheid - kruisig die Koning! Maak die koning koning om Hom neer te haal, het nou die finale aanslag geword: Maak die koning dood om Hom vir ewig te vernietig. Die skyn-navolgers uit die Galilese seegebied en die sanhedrinhaters van die Christus het hulle onderlinge twiste vergeet - een magtige skreeuende front: Kruisig hom! Maak Hom koning en kruisig Hom vloei hier saam in een magtige stemmegolf: WEG MET HOM! Geen kontras nie, geen onverstaanbaarheid nie, want Galileër en skrifgeleerde, Lestes en Fariseër is konsekwente mense en uit dieselfde verhardingsgrond van hulle harte het “Maak Hom koning” en “Kruisig Hom”, dieselfde vernietigingsdoel. Maar nie één van hierdie aanslae het geslaag of kon slaag nie, omdat die koningskap van Christus verhewe is bokant alle koningskappe en Hy is die oorwinnaar van die dood waarin sy Messiasskap moes ten ondergaan. Hy het opgestaan uit die dood wat hulle kruisgeskreeu gebring het. Hy lewe tot in alle ewigheid en in Hom lewe elkeen in wie God Hom geopenbaar het in ewige heerlike gemeenskap met Hom - want ons navolging van Christus is gebore uit die heerlike gemeenskap met sy opgestane liggaam, en in sy liggaam het ons deel deur die uitverkiesende genade van die Ewige en Almagtige God - en ons  gemeenskap is onvernietigbaar.

 

Hulle navolging van Christus daarenteen is gebore uit eie behoefte om eie begeertes verwesenlik te sien en hierdie navolging is ook die kruisiging van Christus. Tussen hierdie “Maak Hom Koning” en “Kruisig Hom” is ‘n gedurige wisseling, waarvan die finale sal wees: een magtige akkoord: Weg met Christus! En daarop sal die Ewige Koning in sy wêreldgerig antwoord: Weg met hulle.

 

Laat nou maar die leiersfigure van die wêreld met hulle stelsels en ordes trag om weg te doen met Christus! Laat hulle opnuut probeer om Hom te kruisig en te laat sterwe, omdat hierdie Christus deur die eeue heen gebots het met hulle eie Messiasverwagting van ‘n ewolusionistiese koningmens, ‘n volmaakte heerser, wat die dwinglandy van die Romein oor die werker sal afwerp, sodat hy vry sal wees in ‘n werkers-messiasstaat - laat hulle maar skreeu: Kruisig Hom - Christus leef tot in alle ewigheid want Hy het die dood oorwin sodat ons kan lewe.

 

En langs hulle staan die navolgers van Christus wat elke dag skreeu: Maak hom koning! Hulle volg getrou en hou dop en soek, omdat hulle bang is om, as Christus dalk werklik die Messias is, die Redder van die wêreld, uitgesluit te wees, daardie dag as die oordeel val. Maar as Christus dalk nie verlos nie, as God nie bestaan nie, is daar kans om weg te breek, en ander te soek wat die rebellie van eie voordeel en selfverheerliking sal deurvoer tot ‘n magstaat waarin hulle wêreldfigure sal wees saam met hulle valse christusse. Ook hulle: “Maak Hom koning” versmelt met die ander se: “Kruisig Hom” tot hulle eie en verdoemende: “Weg met hulle!” Goddank - daar is ook die uitverkorenes, die kindertjies aan wie die krag en die genade van God in Christus geopenbaar is. Hulle is die dissipelkring, die weiniges, die ware kerk van Christus, en Christus - EWIGE KONING.

Amen!