Ons Here Jesus hét neergedaal na die hel



1. Die hartklop van die evangelie

Met die belydenis van ons Twaalf Artikels dat ons Here Jesus neergedaal het na die hel staan ons by die hartklop van die evangelie. Daarmee word uitgedruk wat die diepste betekenis van die lyding van ons Here Jesus Christus om ons ontwil was. Dit is 'n heerlike, troosryke belydenis, want daaruit leer ons: Die Seun van God was in die hel, sodat ons die paradys kan ontvang.

Tog was daar in die kerkgeskiedenis en ook in die hede baie kritiek teen en dwalings en misverstand rondom hierdie wonderskone artikel. Sommiges het byvoorbeeld daaruit afgelei dat Jesus werklik in die plek genaamd die hel was.

My bedoeling is nie om op al die kritiek en afwykende standpunte in te gaan nie. Ek wil eerder aantoon dat hierdie artikel op die Skrif gegrond is. Verder wil ek u laat sien hoe ryk en troosryk dit is.

2. Die Skrif alleen moet beslis

Wat mense - ook vandag - van hierdie artikel dink, is nie belangrik nie. Wat wel van deurslaggewende en alles beslissende belang is, is die vraag of hierdie belydenis die toets van die Skrif kan deurstaan. Die Bybel moet die enigste maatstaf wees waaraan ons dit moet meet.

Ons moet dus aan die Skrif vra: Het Jesus neergedaal na die hel? Hierdie vraag moet met 'n nee en 'n ja beantwoord word.

3. Jesus het níe neergedaal na die hel nie

Daar is geen enkele Skrifgronde vir die standpunt dat Jesus na sy dood en terwyl Hy in die graf was, in die hel as plek was nie. Jesus se woorde aan die moordenaar: "…vandag sal jy saam met my in die paradys wees" (Lk.23:43), en ons Heiland se sterwenswoorde: "Vader, in u hande gee ek my gees oor" (Lk.23:46), is allesseggend. Dit leer ons: Toe Hy gesterf het, was Hy by sy Vader in die paradys en níe in die hel nie.

Voorstanders van die standpunt dat Christus na sy dood neergedaal het na die hel, beroep hulle graag op 1 Petrus 3 vers 18 tot en met 22 en hoofstuk 4 vers 6. Daarin vind hulle die bewys dat ons Here Jesus na sy sterwe sy oorwinning in die hel gaan aankondig het. Dit is daarom belangrik om op hierdie tekste in te gaan. In hoofstuk 3 vers 18 tot en met vers 20 staan geskryf dat Christus lewend gemaak is deur die Gees, "in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag". Vers 6 van hoofstuk 4 lui dat "aan die dode die evangelie verkondig" is. Hierdie tekste is inderdaad moeilik. Dit is egter 'n Gereformeerde Skrifverklaringsbeginsel dat die moeiliker gedeeltes in die Bybel verklaar moet word met die wat makliker is. Skrif moet met Skrif vergelyk word. In die lig van Lukas 23 vers 43 en 46 is dit duidelik dat hierdie tekste in Petrus sekerlik nie so verklaar moet word dat ons Here Jesus na sy sterwe 'n triomftog na die hel (gevangenis) onderneem het nie. Die Kanttekeninge van die Statenvertaling lê dit so uit: Ons Here Jesus het deur Noag gepreek vir die mense van sy tyd. Hulle het hulle egter nie aan sy prediking gesteur nie. Ondanks die lankmoedigheid van God het hulle ongehoorsaam gebly. Daarom was hulle nou, toe Petrus hierdie brief geskryf het, in die gevangenis of hel.

4. Jesus hét neergedaal na die hel

Na die hel as plek het Jesus dus nie neergedaal nie en tog bely ons: Hy hét neergedaal na die hel. Hoe moet ons dit verstaan?

Ek kan dit nie sterk genoeg beklemtoon dat Jesus wel neergedaal het en dat Hy neergedaal het na die hel nie. Elke woord van die artikel is waar.

Dit sê ek op grond van die Heilige Skrif alleen (Sola Scriptura).

'n Teks wat van besondere belang is, is Efesiërs 4 vers 9: "Maar dít: Hy het opgevaar - wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?" Ons kan "die onderste dele van die aarde" beter vertaal as: " die laer dele, naamlik die aarde". Om te begryp wat daarmee bedoel word, moet ons ook vers 10 betrek, naamlik dat Jesus opgevaar het "bokant alle hemele". Ons het hier te make met twee absolute, radikale uiterstes: "neergedaal na die laer dele, naamlik die aarde" teenoor "opgevaar bokant alle hemele". In die eerste word ons Here Jesus se allerdiepste lyding en vernedering - sy helse lyding - geteken en in die tweede sy allerhoogste verhoging. Ek kan dit ook so stel: Vers 9 het niks te doen met die hel as plek (dat Christus na sy dood na die hel as plek neergedaal het nie) nie en tog het hierdie vers alles met die hel te make, naamlik in dié sin dat Christus hel op aarde gehad het. Hy het immers van sy geboorte tot sy sterwe onder die straf van God verkeer en wat is dit anders as hel? En juis daarom, omdat Hy so diep gely het, kan Hy ons die gawes van vers 11 gee.

Daar is dus inderdaad sprake van 'n neerdaal en 'n neerdaal na die hel.

Die beste kommentaar op hierdie gedeelte uit Efesiërs 4 is Paulus self in Filippense 2 vers 6 tot 9: Die Seun van God het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en gehoorsaam geword tot die dood van die kruis; daarom het God Hom ook uitermate verhoog. Wil u daarom sien hoe diep die Seun van God om u ontwil neergedaal het? Lees dan daardie gedeelte. Dit was tot in die hel.

Dit word soms gesê: Jesus het nie na die hel toe gegaan nie, maar die hel het aan die kruis na Hom toe gekom. Dié uitspraak is vir my net gedeeltelik aanvaarbaar. Jesus hét na die aarde neergedaal om hier die helse lyding te ly. Die hel het dus nie net na Hom toe gekom nie, maar Hy het ook daarheen gegaan. Verder: Nie alleen Jesus se kruisiging moet ingesluit word by die woorde "wat neergedaal het na die hel", nie, maar sy hele aardse lewe, van sy geboorte tot sy sterwe (HK V/A 44). Vir toeriste in Jerusalem word gewys dat die Via Dolorosa (die lydensweg, die pad wat Jesus geloop het met die vloekhout) begin by die regssaal van Pontius Pilatus en eindig by Golgota. Die Skrif leer egter dat die Lydensweg begin het by die krip en gaan tot by die graf. Sy geboorte was sy eerste tree op die bitter weg. Iemand het dit treffend so verwoord: Reeds by die krip het Jesus begin om die koopsom vir ons verlossing uit te betaal. Maar die grootste geldstukke het Hy neergelê in die doodsangs van Getsemane en in die donker oomblik van die kruis, toe sy hande en voete deurboor is en toe Hy dit in doodsangs moes uitroep: "My God, my God, waarom het u my verlaat".

5. Elke woord (Woord) is belangrik

Ons mag nie die woord hel versag deur dit byvoorbeeld te vervang met diepste lyding nie. Die woord hel is 'n gelaaide woord: Dit herinner ons dat Jesus nie 'n gewone lyding gely het nie, maar ons moet God se grimmige hand en sy ewige oordeel daarin sien.

Neergedaal is eweneens 'n woord uit die verlossingsgeskiedenis. Dit is al duidelik uit Efesiërs 4. Hoe diep het die Seun van God nie neergedaal om ons te red nie: uit die hoë hemel tot in die diepste diepte van die ewige dood. Omdat Hy uit die hemel na die hel neergedaal het, daarom - en juis daarom - is Hy die brood van die lewe wat uit die hemel neerdaal en daarom - en daarom alleen - kan Hy ons ook voed en verkwik tot die ewige lewe (Joh.6).

Elke woord van die artikel kom uit die Woord en daarom is die Woorde (hoofletter W) van hierdie artikel vir my noodsaaklik.

6. 'n Dieper insig in ons Here Jesus se hele aardse lewe en lyding

Sommige mense wat 'n probleem met hierdie artikel het, sê dat dit die indruk skep asof Christus wel na sy dood na die hel neergedaal het. Hulle argumenteer dan so dat alles wat tot voor hierdie artikel gesê is, gebeurtenisse is wat in tyd die een op die ander volg: eers is Jesus ontvang van die Heilige Gees, toe is Hy gebore, daarna het Hy gely onder Pilatus en het Hy gesterf aan die kruis en toe is Hy begrawe. In die lig hiervan lyk dit asof ons artikel dan so verstaan moet word dat dit in tyd moet volg op die begrawe, dat dit dus sê: toe (nadat Hy gesterf het en begrawe is) het Hy neergedaal na die hel.

Die feit van die saak is egter dat die woorde eers, toe en daarna nie in ons vertaling staan nie en nog minder in die oorspronklike.

Ons kan dit eerder, in navolging van Calvyn, as 'n geloofsuitspraak aangaande die diepste betekenis van ons Here Jesus se lewe en lyding van die wieg tot in die graf verstaan. Nadat die Twaalf Artikels al die feite aangaande Jesus se lewe genoem het, verklaar die belydenis, op grond van die Skrif, wat dit alles beteken: Dit (sy geboorte, kruis en dood) was neerdaal na die hel. Dit is ook die uitleg van ons Heidelbergse Kategismus (V/A 44) en Ursinus in sy Skatboek.

7. Saam met die kerk van alle eeue doen ons belydenis van ons geloof

Miskien ken u nog die woorde van hierdie opskrif. So het dominees vroeër (en gelukkig sommige vandag nog) die Twaalf Artikels ingelui.

Dit is nie hol, leë woorde nie. Dit is 'n geloofsbelydenis: Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges. Daarmee erken ons enersyds: Ons staan op dieselfde belydenis as ons geestelike vaders deur die eeue heen. Maar dit sê nog oneindig veel meer: Daarmee verklaar ons gelowig dat ons Twaalf Artikels 'n erfstuk uit die geskiedenis is, 'n wonderstuk van die gemeenskap van die heiliges. Ons mag daarin die wonder van die werk van die Heilige Gees sien: Die Gees van God het 'n broeder of broeders van my, soveel honderde jare gelede, na hierdie belydenis gelei en oor die lange eeue heen reik my broeder dit vir my aan in die Twaalf Artikels. Dit geld ook Calvyn en Ursinus se interpretasie. Ja, ek glo in die Heilige Gees en ek glo in die gemeenskap van die heiliges wat Hy skep en waarin Hy werk. Daarom kan ek nie sommer so maklik oor hierdie artikel loop of dit skrap of verander nie.

Natuurlik moet ons ons belydenis steeds toets aan die Woord van die Gees. Mense bly sondaars. Ons mag egter nie vergeet dat die Heilige Gees ook deur mense wil werk nie.
Die Twaalf Artikels bly vir my 'n wonder van God. Kyk net wat 'n heerlike, harmonieuse geheel dit is. Wie aan 'n deel van hierdie skilderstuk torring, bederf die geheel. Deur die invoeging van hierdie artikel het ons 'n belydenis waarin die neergedaal en die opgevaar staan, die hel en die hemel. Mense kan so 'n absoluut Skrifgefundeerde kunsstuk nie uitdink nie. Dit is 'n meesterstuk danksy die leiding van die Heilige Gees.

Saam met die kerk van alle eeue bely ek daarom: Ek glo in Jesus Christus…wat neergedaal het na die hel.

8. Die paradys ook vir my geopen

Ja, Jesus hét neergedaal na die hel. Maar daarom kon Hy vir die moordenaar wat in die hel was (aan die kruis, die vloekhout) en vir alle helwaardiges wat in Hom glo, die paradys open met die sleutel - en daar is geen ander een nie - van sy hellevaart. Daarom sal die woorde van ons belydenis vir my die grootste troos denkbaar bly.