Abraham
 
Oordenking 1

LEES: Genesis 11:27-12:3
TEKS: Genesis 12:1
TEMA: God roep Abram uit vrye genade alleen

Wie en wat was Abram voordat die HERE hom geroep het? Hy was 'n inwoner van die plek Ur. Dit was 'n stad met 'n grootse beskawing en 'n ryk kultuur, maar tegelyk was dit 'n diep heidense plek vol afgodstempels.

Aan dié afgodery het Abram self ook deelgeneem. Dit sê die Skrif self aan ons in Josua 24:2 waar Josua vir die Israeliete sê:"Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon - Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien".

Abram was dus 'n afgodsdienaar. Saam met die ander inwoners van Ur was hy 'n aanbidder van die maangod Sin. Net soos al die ander het hy gelewe in die duisternis van die heidendom.

U begryp dus: Dat God Abram geroep het, was nie omdat hy soveel beter as al sy tydgenote was nie. Dat God hom geroep het om sy kind te wees, daarvan het hy geheel en al niks verdien nie. Hy was self 'n groot sondaar, in homself dood en doemwaardig, en hy het niks anders verdien as hel en verdoemenis nie, omdat hy ander gode gedien het, sê Kohlbrugge.

Dat die HERE hom tog geroep het, kan alleen toegeskryf word aan God se onverdiende goedheid en ontferming. Nie die mens word in hierdie verhaal geprys nie, maar die HERE alleen. Hierdie geskiedenis is niks anders as 'n loflied op die vrye genade van God nie.

Ook ons verlossing kan aan niks anders as God se vrye guns alleen toegeskryf word nie. Met die woordjie "vry", Gods vrye guns of sy vrye genade, het ons reformatoriese vaders bedoel: die HERE was geensins verplig om juis ons genadig te wees nie. Saam met alle mense het ons dit verdien om verlore te gaan - vir ewig! Wat 'n ontsaglike wonder is dit daarom nie dat ons kinders van God mag wees nie! Is dit vir u nog 'n wonder?

Ons lees ook nêrens dat Abram eerste na die HERE toe gekom het nie. Inteendeel, die eerste wat ons hoor, is die genadige roepstem van die HERE wat na hom te uitgaan. En terwyl Abram met die rug na God toe leef en Hom nie soek nie, soek die HERE hom en roep tot 'n lewe in sy salige teenwoordigheid. So is dit altyd: God is die eerste in die verlossing van die mens.

Hierdie dinge is ook van toepassing op ons. Dit is nie ons wat eerste na God toe gegaan het en Hom gesmeek het om ons te verlos nie. O nee, God gryp eerste in ons lewe in en draai ons om na Hom toe. Is dit nie aangrypend nie?
 

Oordenking 2
 
LEES: Genesis 11:27-12:4
TEKS: Genesis 12:1,4
TEMA: God roep Abram deur die Woord alleen

Hoe trek God Abram op uit die moeras van die heidendom? In 'n paar onopvallende woordjies staan dit daar:"En die HERE het gesê". Ons jaag so maklik oor sulke woorde en tog lê daarin die geheim van Abram se redding uit die dood van die misdade en die sonde opgesluit:"En die HERE het gesê! Die God van die Verbond het gespreek. Dit wil sê: Deur sy Woord bevry Hy Abram van die afgodedom. As sy Woord weerklink, kom daar beweging: Abram hoor die Woord en hy breek met die afgodediens. God spreek en Abram volg die HERE. Die spreke van God doen dit. Die Woord werk die wonder.

Dit gaan hier soos aan die begin by die skepping. Daar het God ook net gespreek en uit niks het iets te voorskyn gekom. Hy het gesê: Laat daar lig wees en daar was lig. En hier doen die HERE weer so: Hy spreek net en in die hart van Abram, waarin daar eers niks was nie - geen geloof en geen liefde nie - kom daar geloof. En die HERE spreek en die lig van die evangelie word ontsteek in die donker hart van Abram.

In ons lewens gaan dit nie anders nie: Sy Woord herskep ons. Daarom is dit so belangrik om na die Woord te luister, nie net hier nie, maar ook by die huis. Deur die Woord skep die HERE vir Hom 'n volk. Dit was juis die groot betekenis van die Hervorming wat ons ook in hierdie tyd gedenk: hulle het die groot waarde van die Woord weer besef. Sola Scriptura - deur die Woord alleen - , dit was hulle slagspreuk. En in ons tyd sal die kerk op geen ander manier vergader word en groei en vernuwe word en oplewe en opbloei as net deur die Woord alleen nie.

En daardie Woord is Christus! In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh.1).
 

Oordenking 3

LEES: Genesis 11:27-12:4
TEKS: Genesis 12:1
TEMA: Die HERE roep Abram tot gehoorsaamheid aan die eise van sy Woord.

Drie eise word aan Abram gestel. Drie maal weergalm dit in sy ore: Gaan! Gaan! Gaan! "Gaan uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis".

Hierdie woorde is soos drie bylslae aan die wortel van sy lewensboom - sy lewensboom wat gewortel is in land, familie en vaderhuis. Hy moet sy tentpenne uittrek. Hy moet alles agterlaat wat hom veilig laat voel het, wat vir hom kosbaar en dierbaar is.

Weet u hoe moeilik moes dit vir Abram gewees het? Laat ek u dit verduidelik:

· Gaan uit jou land, sê die HERE eerste. Vir die mense van daardie dae was hul land in sekere opsig nog kosbaarder as vir ons. Want daar geniet jy die beskerming van die god van jou land. Gaan jy egter oor die grense van jou land, moet jy dit ontbeer, want die heidene het geglo dat die god se invloed net strek tot by die grense van die land.
Hierdie bevel: Gaan uit jou land, beteken dus: Abram moet breek met die afgode. Hy moet dit waag met die nuwe, met die ware God.

· Die HERE sê tweedens vir hom: Gaan uit jou familie. Ditwas sekerlik net so moeilik. Vir die primitiewe mens was sy familie, sy stam, van lewensbelang. Binne die grense van jou stam was jy veilig. Daar het jy hulle beskerming geniet. Daar buite moes jy onbeskermd die vyandskap van ander stamme trotseer.

Abram sou moes leer om sonder mensehulp klaar te kom en op die HERE alleen te vertrou.

Is dit nie ook iets wat ons moet leer nie? Ons is so geneig om op mense te vertrou, om byvoorbeeld ons hoop op politieke leiers te vestig vir ons veiligheid en voorspoed. Hierdie teks roep ons op om ons in die arms van God alleen te werp.

· Die derde wat die HERE van Abram eis is: Gaan uit jou vader se huis. Die teerste, die band van bloed, sy vaderhuis, moet hy vaarwel toeroep. Hy moet afskeid van hulle neem, sonder om hulle ooit weer te sien. Hy moes alles, ja alles, agterlaat en die HERE volg.
Abram word voor 'n radikale keuse gestel: aan die eenkant sy land, sy familie en sy vaderhuis en aan die anderkant die HERE.

Ook ons moet kies, miskien nie in dieselfde sin as Abram dat ons ons land en ons familie en ons vaderhuis moet agterlaat nie, maar ons moet wel deeglik kies, kies vir God. Hy moet die belangrikste in ons lewe wees. Jesus het immers eenmaal vir sy dissipels gesê:"Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie".

Abram en elkeen wat in sy voetspore volg verloor dus veel, ontsaglik veel. MAAR in die plek daarvan ontvang honderd maal soveel en die ewige lewe (Mt.19:29)".

Ten slotte nog 'n vraag van kardinale belang: hoe kon Abraham hierdie moeilike bevele gehoorsaam? Deur die krag van God se roepende Woord (vgl. Oordenking 1).

Oordenking 4

LEES: Genesis 11:27-12:4
TEKS: Genesis 12:1
TEMA: Die HERE roep Abram tot geloof in sy Beloftewoord.

Die roepende Woord van God ontwortel Abram, maar Hy doen dit om hom te wortel in die vrugbare grond van sy beloftes. Dit is boompie verplant, maar in hierdie geval is dit so heilsaam, want die lewensboom van Abram word uitgeruk uit die doodbrengende grond van die heidendom en ingeplant in die lewegewende bodem van God se Woord.

Dis 'n skat van beloftes wat aan hom voorgehou word, maar om dit te kon ontvang, moes hy eers alles verlaat het. En aan ons word eweneens baie beloof, maar om dit te ontvang, moet ons van die wêreld afsien.

Dis 'n skat wat aan Abram beloof word, maar hy SIEN dit nog nie. Dit bly 'n saak van GELOOF (Heb.11:1).

· Die HERE beloof aan Abram eerstens 'n land. Maar hy sien dit nog nie! Al wat die HERE vir hom sê is dat hy moet gaan na die land wat die HERE hom sal wys.
En is dit met ons nie ook so nie? Trek, sê die HERE, na die ewige Kanaän! Maar ons sien nog niks van daardie mooi land nie. Al wat ons het, is die Bybel waarin aan ons vertel word hoe heerlike plek die nuwe aarde sal wees.

· Die HERE beloof tweedens dat Hy Abram tot 'n groot nasie sal maak. Dit was moontlik vir Abram nog moeiliker om daaraan te glo, WANT Sara was onvrugbaar. Hy sou moes glo dat dié God wat Hom geroep het, instaat is om lewe uit die dood te gebied. As daar ooit 'n groot nasie uit hom sou voortkom sou dit alleen danksy 'n wonder van God wees.
Waarom kies die HERE nou juis 'n man met 'n onvrugbare vrou? Om ons te leer dat die kerk, die groot nasie van God, 'n Godswonder is. Die kerk, die skare wat niemand kan tel nie, is van hemelse herkoms en van Goddelike maaksel. Ons kan mense nie die geloof gee nie, ook nie ons eie kinders nie.

· Die derde en seker die grootste wat die HERE Abram beloof, is dat hy 'n seën sal wees.
Hierdie seën slaan op ons Here Jesus! Immers, uit Abram se nageslag sou die Heiland van die wêreld gebore word. Ook hierdie belofte se vervulling het Abram nie met vleeslike oë nie, maar wel met die geloofsoog aanskou (Jh.8:56).
Omdat Abram hierdie sëen gehad het, sou hy 'n sëen wees vir die wêreld. Elkeen wat glo in die beloftes wat aan hierdie man geskenk is, sal geseënd wees.
Ons as Nuwe Testamentiese Kerk kan alleen 'n seën wees, as ons die Seun verkondig.
Hierdie belofte het egter ook 'n donker keersy: Vir sommiges sal Abram en die kerk vandag nie 'n seën wees nie, maar 'n vloek. Daar sal mense wees wat hulle erger aan die evangelie, want immers, die evangelie is nie na die mens nie. Sulke mense sal deur God self vervloek word.

Oordenking 5
 

LEES: Genesis 12:4-7
TEKS: Genesis 12:7
TEMA: Die skynbaar troostelose toestand vir Abram

Dit moes vir Abram ontsaglik moeilik gewees het om die opdrag van vers 1 te gehoorsaam.

Aan die een kant moes hy alles agterlaat wat vir hom kosbaar en dierbaar was: sy land met sy afgode wat hom altyd beskerm het, sy familie in wie se gebied hy veilig gevoel het en dan ook sy geliefde vaderhuis. Al daardie dinge moes hy agterlaat, alles wat vir hom mooi was, wat hy lief gehad het. Hy moes alles wat vroeër sekerheid en sekuriteit gebied het, waarwel toeroep.

Aan die ander kant moes hy nou sy lewe toevertrou aan 'n God - die HERE - wat hy nog skaars geken het. En al wat hy van dié nuwe God ontvang het, was 'n belofte:"Gaan...na die land wat Ek jou sal aanwys". Maar van daardie belofte sien hy nog niks nie. Waar dié land is, weet hy nie. Hoe dit lyk, word nie vir hom gesê nie. Hy moet hom heeltemal verlaat op die HERE. Hy moet God vertrou dat Hy sal en kan doen wat Hy beloof het en dat die land waar die HERE hom heenlei, 'n goeie land is.

U begryp dus sekerlik dat dit 'n toets vir Abram se geloof was. En dan sien ons in ons voorgelese gedeelte: Abram lê sy lewe in die hand van die HERE en hy trek. Dit is geloof. In Heb.11:8 staan daar:"Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom".

Met ons gaan dit nie anders as met Abram nie. Ons is pelgrims op reis na die ewigheid. Ook aan ons is 'n land belowe: die ewige Kanaän, die nuwe aarde onder die nuwe hemel. Maar daarvan sien ons met ons oë niks nie. Al wat ons het, is die Woord waarin dit aan ons belowe word. Net soos Abram moet ons onsself dus rustig toevertrou aan die HERE en ons lewens lê in sy hande. Al sien ons nie die land nie, moet ons glo dat die HERE sal doen wat Hy belowe het en dat dit 'n heerlike land sal wees. Dit is 'n toets vir ons geloof.

Dat Abram nog niks van die land gesien het nie, was alreeds vir hom 'n geloofsbeproewing, maar by sy aankoms in die land het daar nog 'n toets op hom gewag. Want in v.6 staan daar:"Die Kanaäniete was toe in die land". Dit is nie sommer so terloopse, onbelangrike opmerking nie. Daarmee sê die Bybelskrywer: die land van belofte was besette gebied; magtige heidense volkere het die beheer gehad. Dit moes vir Abram 'n groot terleurstelling gewees het, 'n skynbaar troostelose situasie. Hoe sou hy en sy nageslag ooit in besit kom van hierdie land.

Weereens is daar 'n groot ooreenkoms tussen ons en Abram. Hierdie aarde waarop ons woon, is ons erfenis. Dit is die land wat aan ons belowe is. Maar wat 'n terleurstelling, wat 'n ontnugtering kry ons nie as ons rondom ons kyk en as ons let op die aarde nie: Dit is immers nie onbewoonde terrein nie. Dit is besette gebied. Heidense magte is in beheer en goddelose magte gee die toon aan. Vir 'n christen is daar geen plek nie en ons word nie toegelaat om hier te leef soos die HERE dit van ons verwag nie. Ons word hier geen staan- en leefruimte gegun nie. Aan alle kante word ons beginsels verwerp.

Waarmee troos die HERE Abram in sy skynbaar troostelose situasie? Met sy Woord (v.7). Die Woord (Christus) is ook sy enigste troos (HK v/a 1). Maar daaroor 'n volgende keer meer.
 

  Oordenking 6

LEES: Genesis 12:4-7
TEKS: Genesis 12:7
TEMA: Hoe die HERE Abram troos onder sy troostelose omstandighede.

Die HERE ontmoet die vader van die gelowiges. Hoe dit presies gebeur het, of hy in die gestalte van 'n mens of in die gedaante van 'n engel na hom toe gekom het, word nie gesê nie. Die belangrikste is dat die HERE aan hom verskyn. In hierdie krisisoomblik in Abram se geloofslewe laat God hom nie aan homself oor nie. Is dit nie aangrypende nie: Die alhoë Koning daal neer om sy kneg te bemoedig.

En dan troos Hy Abram. Hy versterk sy geloofslewe. Maar hoe? Weereens spreek God net. Al wat Abram kry is 'n woord, die Woord van die HERE. Nog ontvang hy nie 'n duimbreedte grond van die land van belofte nie. Slegs die beloftewoord word aan hom gegee:"Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee". Dit is 'n herhaling van sy reeds gegewe belofte, die landsbelofte, maar hierdie keer word tog iets meer gesê: die presiese land word aangewys, "hierdie land", die land Kanaän.

Die HERE verskyn nie aan ons op dieselfde wyse as aan Abram nie. Ek bedoel maar: Hy kom nie van tyd tot tyd na ons toe in die gedaante van 'n engel of 'n mens nie. Tog ken ons, net soos Abram, Godsontmoetings. Die HERE laat ons in ons krisisse nie alleen nie. Hy daal na ons toe neer, Hy die alvermoeënde en heerlike God. Is dit nie 'n wonder dat die heilige God Hom nog met sulke sondige, nietige mensies soos ons wil inlaat nie? Is dit vir ons nog 'n genadige, verblydende verrassing?

Waar vind dié Godsontmoetings in ons lewens plaas? In die erediens, maar ook rondom die huisaltaar! Daar behaag dit die grote God om met ons klein mensies saam te kom. Dit is die geweldige van elke erediens: God is daar! Dit is die wonder van huisgodsdiens: dat die HERE ons begenadig met sy troosryke aanwesigheid!

Wat gebeur tydens hierdie ontmoetings? Gee Hy ons hier alreeds 'n stukkie van die nuwe aarde? Nee, al wat in die kerk gebeur is: God spreek. Maar dit is ook die vernaamste wat daar plaasvind: dat ons God se stem hoor. So sterk Hy ons, net soos Hy met vader Abram gedoen het, met sy beloftewoord. Hy gee ons sy Woord en daardie Woord moet vir ons genoeg wees. Dit moet ons troos al sien ons nog niks van die beloofde dinge nie.
Dit is opvallend dat die HERE sy belofte aan Abram herhaal. Die Bybel doen dit meermale: om te herhaal. Hoekom doen die HERE dit? Omdat Hy weet hoe gou ons vergeet wat Hy vir ons gesê het. Ons het dit nodig om elke Sondag en elke dag weer herinner te word aan dieselfde, bekende dinge.

Ons aandag kan so vasgevang word deur hierdie aarde en deur die dinge wat daarop gebeur, dat ons heeltemal vergeet watter grootse en volmaakte erfenis op ons wag. As ons rondom ons kyk en ons sien die dood en ellende in die wêreld, raak ons morbied en swartgallig. Wanneer God ons egter ontmoet, sê Hy vir ons: Dié aarde sal nie vir altyd so wees nie, maar eendag sal alles nuut gemaak word deur sy Seun.

Abram kon nie sonder hierdie ontmoetings klaarkom nie. Die Woord is Abram se enigste troos in lewe en in sterwe (HK v/a 1). Dit is ook ons enigste troos.
 

 Oordenking 7

LEES: Genesis 12:4-7
TEKS: Genesis 12:7
TEMA: Abram se antwoord op God se troos

Die Woord vra van ons 'n ant-woord: ja of nee. Abram reageer op die beloftewoord van die HERE deur 'n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het te bou. Daarmee wou hy sekerlik sy dankbaarheid vir die ontvange troos uitdruk.

Ons bou nie meer sulke altare soos Abram nie. Tog kan ons nie sê dat daar geen dankofferaltare in ons lewens is nie. Die gebed is so 'n altaar. Daarop bring ons dank aan God. Die Kategismus noem dit die vernaamste dankofferaltaar in ons lewe. Abram het, so ver as wat hy getrek het, altare opgerig. Doen u dit ook?

In die kerk het ons ook so 'n gebedsaltaar. Daarom het die Here die erediens gegee: sodat ons Hom daar sal dank vir sy troos in Christus.

Nog 'n altaar is die huisaltaar of huisgodsdiens. Daar ontmoet ons daagliks ons God en moet ons Hom dank vir sy ryke seëninge. Staan dié altaar nog in u huis?

Van hierdie altare wat Abram van staanplek tot staanplek opgerig het, het daar voorts 'n getuienis uitgegaan. In v.6 lees ons dat Abram gekom het by die terpentynboom met die naam More. Dié naam beteken leraar. Die heidene het dus 'n terpentynboom as leraar gehad. Dit was 'n waarsêersboom. Die heidense priesters het geglo dat hulle die toekoms kon voorspel uit die buig van die boom se takke en die geruis van die wind deur die blare. 'n Afgodediens was dus daar aan die gang. Die heidene het hulle verbeel dat hulle daar die stem van hulle afgode kon hoor.

Maar juis daar het Abram die stem van die alleen ware en lewende God gehoor en nou rig hy juis daar, daar waar die heidene hulle afgode vereer, 'n altaar op om sy God, die HERE, te vereer. Teenoor die diens van die afgode plaas hy 'n altaar en dit was sekerlik bedoel as 'n getuienis, 'n belydenis teenoor die heidendom.

Die mense in ons tyd het nie meer afgode in die sin dat hulle Baäl en Astarte aanbid en beelde oprig nie. Tog het ons nog baie afgode: ons sport, ons geld, ons werk, ons eer, en so is daar nog vele. Alles wat vir ons belangriker is as God, is afgode. As ons ons geluk, sekerheid en ons veiligheid êrens anders soek as by die lewende God, is ons besig met afgodediens. Ons moet getuig dat net die ware God gelukkig kan maak.

Die altaar van Abram het gespreek van dankbaarheid, maar dit was nog meer: die altaar in die Ou Testament is altyd 'n heenwysing na die grootste altaar in die wêreld: Golgota. En die offers wat daar gebring is, skadu die groot offer, naamlik die van Jesus Christus af. Uit daardie offer het Abram geleef en daarvan het hy getuig toe hy sy altare opgerig het: Jesus is die Verlosser van die wêreld. Dit is ook die belangrikste wat van u kant af uit moet gaan in die wêreld.

Dit is ook die offer alleen - Christus alleen! - wat Abram - en ons! - se ontmoeting met God moontlik gemaak het.

Oordenking 8

LEES: Genesis 12:10-20
TEKS: Genesis 12:10
TEMA: Die Kerk se ontrou

So pas het vader Abram uit die kerk gestap. Ek bedoel maar: God het hom ontmoet en met hom gepraat. Dit is immers waaroor dit in die kerk gaan.
Wat het Abram daar te hore gekry? Niks anders as die evangelie nie: Kanaän is aan hom belowe en daarmee selfs nog meer: die ewige Kanaän.

Skaars is Abram egter uit die kerk, of hy vergeet wat hy gehoor het.
Hoe dikwels is dit nie ook met ons die geval nie! Ons gaan Sondag kerk toe en ons hoor daar dat ons mekaar moet lief hê, maar skaars is ons uit die huis van God of ons is weer haatdraend. Of ons hoor dat die HERE waak oor sy kerk, maar sodra ons uit die kerk kom, raak ons weer swartgallig oor die donker tydsomstandighede.

Maar kom ons kyk wat gebeur in die lewe van Abram. Pas het hy die belofte van die HERE oor die beloofde land ontvang, of 'n swaar hongersnood tref die land. Dit moes inderdaad vir Abram 'n swaar geloofsbeproewing gewees het. Heel waarskynlik het die volgende vrae toe deur sy kop gemaal: Waar is die HERE nou, die God wat belowe het dat Hy my sou seën? Abram se geloof word in die smeltkroes gewerp. Die HERE toets ons ook. Hy beproef ons om te sien of ons op Hom vertrou en of ons glo in sy Woord.

Abram druip egter die toets! Nog maar 'n paar verse tevore het die HERE hom verseker dat HY vir hom sal sorg. Wat Abram nou doen, kom eintlik maar daarop neer dat hy sê: Nou sal EK SELF maatreëls tref om my voortbestaan en veiligheid te verseker, want sonder om die HERE te bid, gaan hy na Egipte toe.

In Nederland sê mense soms: Ek behoort aan die vereniging genaamd "Eie hulp". Dit wil sê: Ons help ons self; ons het die hulp van ander nie nodig nie. Geestelik wil ons dit ook doen: sonder die hulp van die Here regkom.

Dit is eienaardig: nadat Abram die besluit geneem het om na Egipte te gaan, kom daar onrus en angs in sy lewe. Die man wat kruis en dwars deur Kanaän met sy vele gevare getrek het, vrees nou! Sal ek en my vrou nie iets oorkom nie? As ons nie meer leef uit die beloftes van God nie, raak ons oorspanne en depressief.

Ons sien verder in die lewe van Abram dat 'n sonde nooit alleen bly nie: die een sonde gee aanleiding tot die volgende. Eers het Abram nie geglo dat God in die hongersnood vir hom sal sorg nie. Nou kom die tweede: Hy dink nie daaraan dat die HERE hom en Sarai sal bewaar nie. Hy maak 'n leuen sy fort en nie die Woord nie: Saraï moet sê sy is sy suster.

Miskien het Abram ook gedink aan die belofte dat uit hom 'n groot volk - die kerk - gebore sou word. En wat sal van daardie belofte word, as hy in Egipte gedood word. Dan sal die groot kerkskare tog nie kan kom nie. Weer 'n keer hoor ons nie dat Abram tot God bid en Hom vra om beskerming nie. Hy bou sy eie skanse.

Wat Abram gevrees het, gebeur ook. Sarai beland in die harem van Farao. Dit is die bitter vrug van Abram se sonde en ongeloof. Sonde kan ons nie red nie.

Ons moet ook nog dieper na hierdie geskiedenis kyk: Egipte staan in die Bybel bekend as Gode-en kerkvyandige mag. Agter Egipte staan die ou paradysslang wat die kerk wil uitroei. Dit is tog opvallend dat nie Lot se vrou of een van die slavinne na Farao se paleis geneem word nie, maar juis Sarai! Uit haar sou immers die beloofde saad (die kerk en die Christus) gebore word. En dit wil die duiwel keer!

Die mensie Abram het met eie vernuf die vervullig van die belofte probeer beveilig. Die gevolg is egter: die kerk kom in die grootste gevaar. As dit van mense sou afgehang het, sou daar geen kerk en geen Christus uit Sarai voortgekom het nie.

Oordenking 9

LEES: Genesis 12:10-20
TEKS: Genesis 12:10
TEMA: God se trou

Die mens is ontrou. " MAAR DIE HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai." Dit is die "maar" van sy reddende trou!

Abram - die kerk - het sy Woord vergeet, MAAR HY het dit nie vergeet nie. Sy kerk het Hom losgelaat, MAAR HY het hulle nie losgelaat nie.

Deur eie skuld was Abram reddeloos verlore. Dit was absoluut eie skuld, maar tog sê die HERE nie:"Abram, dis jou eie skuld dat jy nou in die moeilikheid is; sien nou maar self dat jy daaruit kom ,nie". Nee, Hy gryp bevrydend in. Is dit nie genade nie?

Ons bederf so baie dinge in die lewe en ons kom so dikwels in die moeilikheid, omdat ons lid van die vereniging "Eie hulp" wil wees, omdat ons sonder God dinge wil doen. En God sou heeltemal regverdig gewees het, as Hy sou sê: Sien julle nou maar dat julle self regkom. Dit sou ons verdiende loon gewees het, en tog ervaar ons dit dat God ons keer op keer maar weer genadig is en uitkoms gee.

In die geval van Abram stuur die HERE plae om Sarai te verlos. Na alle waarskynlikheid was dit siektes. Hier blyk die trou van die HERE. Hy is 'n Waarmaker van sy Woord. Want het Hy nie gesê:"En Ek sal seën die wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek, nie". Die kerk is vir die wêreld tot 'n seën of 'n vloek. Wie na die Woord van die kerk luister, word deur die HERE ryklik geseën. Maar wee hom, wat hom erger aan die evangeliewoord. Wee hom wat hom vergryp aan die kerk van die HERE. Want dié mense sal seer sekerlik hulle vingers verbrand. God laat dit nie ongewreek nie. Die vloek van Gen.12 sal diesulkes tref. Want wie sy kerk aanraak, raak sy oogappel aan. En dit het Farao wel deeglik aan eie lyf ervaar.

Die HERE vergeet nie sy belofte dat Hy Abram tot 'n groot nasie sal maak nie. Hy is getrou. Sy trou en waarheid hou hul krag, tot in die laaste nageslag. Hy sal sorg vir die vervulling van sy Woord. Hy sal sorg dat uit Abram 'groot volk gebore word. Hy sal sorg dat daar 'n kerk is. En Hy sal ook verseker dat daar môre nog 'n kerk is in ons land. So 'n God het u!!

Maar hoekom waak die HERE met soveel sorg oor Abram en oor sy kerk vandag? Is dit omdat ons sulke goeie mense is? Nee, in hierdie geskiedenis word die sondigheid en die ontrou van die kerk blootgelê. Maar waarom het die HERE dan oor Abram en sy kerkgenote gewaak? Ter wille van die saad, Christus, wat uit Sarai gebore sou word. Ter wille van Christus en danksy Christus wil die HERE ook die kerk van die twintigste eeu beskerm en dra. Hy is die geheim van die kerk se voortbestaan.

Hoe Farao uitgevind het dat dit hand van die HERE was wat hom getref het, weet ons nie. Waarskynlik het hy ondersoek ingestel en in die proses uitgevind dat die siektes begin het toe Sarai in die paleis gekom het. Toe het hy twee en twee bymekaar gesit en tot die konklusie gekom: dié vrou staan onder die beskerming van haar gode. Daarop het hy haar ontbied en toe het die waarheid op die lappe gekom: sy is nie net Abram se suster nie, maar ook sy vrou.

Wat toe gebeur het, was sekerlik diep beskamend vir Abram: hy, die man van God, is tereggewys deur 'n heiden. Sy slegte gedrag het smaad gebring oor die Naam van die HERE. En hoeveel skade doen ons nie deur ons sonde nie. Want uit die mond van heidene word dikwels gehoor: O, is dit nou hoe christene leef? En: As dit so lyk in die kerk, wil ek liewer nie 'n christen wees nie.

Oordenking 10

Lees: Gn.13
Teks: Gn.13:10,11,14
Tema: Lot laat hom in sy keuse nie lei deur die Woord nie

Hierdie lewe is een groot keuse. U moet kies vir God of vir die wêreld en u keuse kan rampspoedige gevolge hê, nie net vir uself nie, maar ook vir mense na aan u.

Hierdie keuse van ons word bepaal deur ons oë. Ek bedoel maar: Word u oë vasgevang deur dit wat die wêreld bied of is u oë gevestig op die Woord?

In Gn.13 ontmoet ons vir die tweede maal vir Lot, die broerskind van Abram. In Gn.12:5 word sy naam die eerste maal genoem. Daar hoor ons hoe hy saam met sy oom, Abram, getrek het. Hoekom hy saamgegaan het, word nie vir ons gesê nie. Dit sou sekerlik nie om finansieële gewin gewees het nie. Immers, Abram moes die gerief en weelde van Ur van die Chaldeërs verruil vir 'n moeisame swerwersbestaan, sonder om te weet waar hy sou kom.
Ons kan daarom met veiligheid aanneem dat daar by Lot geestelike beweegredes was: Hy het onder die invloed van sy oom gestaan. Toe Abram deur die HERE geroep is, het dit op Lot 'n diep indruk gemaak en hy het saamgetrek. Lot was 'n gelowige (Pt.2:8).

Weet ons dit, dan maak hierdie geskiedenis op ons nog 'n des te groter indruk, want hier sien ons dat ook egte kinders van God van die regte weg kan afwyk en hoe rampspoedig dit dan met dit met 'n gelowige kan gaan.

Genesis 13 vertel dat daar twis ontstaan tussen die veewagters van Lot en die van Abram. Vanweë die grote van die kudde was daar nie genoeg weiding en drinkwater vir almal nie. 'n Skeiding was onafwendbaar. Abram laat aan Lot die eerste keuse: "Gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan".

Lot kies dus, maar...hy kies VERKEERD!

Hoe het dit gebeur? V.10 gee die antwoord:"Toe slaan Lot sy OË op...". Nêrens hoor ons dat Lot die HERE geraadpleeg het en sy leiding gevra het nie.

Daar begin die verkeerde keuse altyd mee: met kyk. Eva sien ook dat die boom goed was om van te eet. Ons oë is die toegangspoort tot ons hart. Ons oë is die invalspoort vir die Satan. Soos deur 'n magneet word ons oë aangetrek deur die verlokkinge en die begeerlikhede van die wêreld...en ons kies...verkeerd.

Ons begin deur ons oë op te slaan. Ons wil net so 'n bietjie kyk. Net kyk, niks meer nie. Is dit dan so verkeerd? Ons wil net kyk na daardie seksverhaal op TV; ons wil net kyk wat in daardie banale artikel staan; ons wil net sien of daardie boek werklik so sleg is. Nee, ons wil beslis nie meedoen aan die verkeerde dinge nie. O nee! Ons wil net kyk. En so begeef ons ons in verkeerde geselskap en stel ons ons bloot aan allerlei wêreldse dinge. MAAR moet nie vergeet nie: eers sien Lot Sodom, toe kies Lot Sodom. Die Heilige Skrif sê nie verniet dat ons ons hart moet bewaar bo alles wat bewaar moet word nie. En wie sy hart wil bewaar, moet sy oë bewaar, want Satan dring deur ons oë die vesting van ons hart binne.
Toe Lot sy oë opslaan, was hy totaal meegevoer, want Sodom was 'n uitsonderlike mooi land (vers 10). Die Satan verstaan die kuns om die verkeerde so aanloklik moontlik aan ons voor te hou.

Lot was verblind deur die verleiding van die rykdom (Mt.13:22). Paulus skrywe vir Timothëus: Maar die wat ryk wil word, val in allerhande versoekinge en strikke en baie dwase begeerlikhede (1 Tm.6:9). Dit is wat met Lot gebeur het.

Oordenking 11

Lees: Gn.13
Teks: Gn.13:10,11,14
Tema: Die gevolge van Lot se verkeerde keuse

In die vervolg sien 'n mens die ontsettende suigkrag van die sonde. Al dieper en dieper word Lot die moeras ingetrek. Want in v.12 lees ons dat Lot sy tente tot by Sodom opgeslaan het. Dit beteken: Lot het elke keer weer nader aan Sodom beweeg. Lot was aanvanklik nie regtig van plan om in Sodom, die goddelose stad, te gaan woon nie, maar Sodom het hom getrek. Sien u wat 'n geweldige trekkrag die sonde het? Ja, dit bly nie by net kyk nie, maar dit gaan van kwaad na erger.

Merkwaardig is egter dat Lot nie heeltemal goed kyk nie. Hy sien wel die materieële voordele, die rykdom van Sodom, maar hy sien nie die nadele nie. Hy is blind vir die geestelike bedreiging en die sedelike verderf van dié wêreldstad. Hy dink nie aan die goddelose invloed van daardie mense op hom en sy gesin nie. Al waarvoor hy oog het, is die voorspoed, die geld. Hy stel die finansieële voorspoed van sy gesin bo hulle geestelike welvaart.

Is ons in hierdie opsig nie ook maar baie soos Lot nie? Ons sal alles doen om ons inkomste te vermeerder, desnoods ook deur onnodige Sondagsarbeid. En dan gaan dit vir ons daaroor dat ons ons gesin die heel beste wil gee op materieële terrein. Maar gebeur dit dan nie heel dikwels dat hulle geestelik gebrek ly en in die grootste gevaar kom nie? Want in al ons gejaag na geld het ons nie meer tyd of genoeg tyd vir huisgodsdiens nie.

In Lot se lewe sien ons die tragiese gevolge van 'n verkeerde keuse. In sy gesin het dit totaal en al verkeerd geloop. Hulle het onder die invloed van die wêreld gekom. Eerstens dink ek aan die vrou van Lot. U ken die geskiedenis van Lot se vlug uit Sodom, hoe sy vrou agterom gekyk het en hoe sy ook deur die oordeel van God getref is toe sy in 'n soutpilaar verander het. Waarom het sy omgekyk? Omdat sy vasgevang was deur die afgod, Mammom, die god van die geld. Omdat sy dit nie kon verdra dat sy nou alles wat vir haar so dierbaar was, moes verloor nie. Haar hart het daaraan verknog geraak en daarin was Lot nie onskuldig nie! Immers hy het gekies vir Sodom.

Tweedens dink ek ook aan die kinders van Lot, sy twee dogters. Eers hoor ons dat hulle verloofdes, goddelose manne, uit Sodom gekies het. Ag, die regverdige Lot het hom sekerlik baie daaraan geërger, maar wat kon hy sê? Hy het immers self vir Sodom gekies! Hy het immers self die verkeerde voorbeeld gestel! En uiteindelik het sy eie dogters, besoedel met die sonde van Sodom, met hulle eie pa gemeenskap gehad daar in die grot, buite Sodom.

Die gevolg van Lot se verkeerde keuse was dat hy dus uiteidelik alles verloor het: sy gesin en sy ganse besit.

Dink ons nog aan die gevolge van ons keuses vir ons kinders, ons eggenoot of eggenote?

Oordenking 12

Lees: Gn.13
Teks: Gn.13:10,11,14
Tema: Abram laat hom lei deur die Woord

Wat dadelik opval, is die groot verskil tussen die optrede van Lot en die van Abram:

· Beide die manne slaan hulle oë op, maar LOT doen dit sonder om die HERE te vra: HERE, wat wil u hê moet ek doen? ABRAM daarenteen slaan sy oë op op bevel van die HERE (v.14) Ons kan gerus sê: die groot verskil tussen hierdie twee is dat Abram hom laat lei deur die Woord van die HERE en Lot nie.

· LOT laat hom lei deur die begeerte van sy oë: hy sien die vrugbare Jordaan-vlakte en die weelde van die Sodom-gebied en dit bepaal sy keuse. Die afgod van besit word die leidsman van sy lewe. Hoe anders is dit nie by ABRAM nie: sy oë is nie vasgevang deur die wêreld en sy begeerlikheid nie, maar die HERE vestig sy oë op sy beloftewoord:"Slaan tog jou oë op en kyk...want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid..." Die onmeetbaar goot rykdom van God se beloftewoord, die Bybel, is Abram se leidsman.

· LOT kies self. Hy ken die HERE hoegenaamd nie in die saak nie. ABRAM daarenteen kies nie self nie. Hy laat dit in die hande van die HERE. God kies vir hom: Abram, kyk, die beloftes wat die HERE vir jou gee, die land Kanaän, God se genadige keuse vir jou!

· LOT kies Sodom. Hy kies die verderflike, verganklike wêreld. En hierdie wêreld en sy begeerlikhede vergaan. En dit moes Lot so pynlik, pynlik ervaar in die verwoesting van Sodom en Gomorra. En ABRAM? Ja, vir hom word gekies, en hy ontvang Kanaän. En wat is Kanaän anders as beeld van die nuwe aarde en die nuwe hemel wat nooit vergaan nie. Ons kan dit ook so sê: Lot begeer die wêreldstad, Sodom. Abram daarteenoor kry die nuwe Jerusalem. Immers, in Hebreërs lees ons dat God vir Abram en sy nageslag 'n stad berei het( 11:16) en dat Abram na daardie stad verlang het: "Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

· LOT neem self. Hy besluit: dit is wat ek wil hê, die hele Jordaanstreek. En gulsig-begerig gryp Lot toe. Hoe anders tree ABRAM nie op nie: hy vat nie, maar hy ontvang. Hy vat nie, maar vir Abram word gegee. "...die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee..." Ek sal, dit is: die HERE sal, Hy sal vir Abram gee, Hy sal vir hom sorg. Lot is beeld van die mens wat vir homself wil sorg. Abram daarenteen is voorbeeld van hulle wat hul lewe in die hande van God lê en uit sy hande lewe en ontvang. Maar kyk nou die verskil: wat Lot ontvang is tydelik, wat Abram ontvang is ewig. Wat Lot vat, is verganklik, wat Abram kry, is blywend - dit bly tot in ewigheid. Want dit is 'n hemelse erfdeel.

Ek vestig u aandag laastens op die feit dat Abram van die HERE slegs 'n belofte ontvang. Die vervulling daarvan sien hy nog nie. Hy moet glo dat God sal doen wat Hy beloof het en dat Hy Abram se geloof ryklik sal beloon. Dit maak Abram se keuse so moeilik. En maak dit nie ook vir ons christen-wees vandag so moeilik nie? Die wêreld geniet die wêreldse dinge. Hulle het dit in hande, soos Lot ook die weelde van Sodom daadwerklik besit het. En ons? Ons as gelowiges het dikwels net 'n belofte. Daarmee moet ons tevrede wees. Soms is die versoeking daarom groot om maar op te gaan in die wêreld en te geniet van dit wat die wêreld bied. Maar let dan op die einde van Lot.

Laat u oë liewer gelei word deur die skitterglans van die goud van die Woord, as deur die misleidende glans van die wêreld se klatergoud.

Oordenking 13

Lees: Gen.13:14-14:24
Teks: Gn.14:18-20
Tema: 'n Groot versoeking op Abram se weg

Hoeveel kere gebeur dit nie: Ons kom in die kerk en ons hoor 'n besondere en 'n blye boodskap en gaan ons uit die kerk, dan word ons juis op daardie punt deur Satan in die versoeking gelei? Ek noem 'n enkele voorbeeld:

- U het miskien een Sondag 'n preek gehoor van God se besondere sorg en u het dit besonder troosryk gevind. Net in die nuwe week kom daar die vreeslikste finansieële bekommernisse op u weg en Satan bring u in die versoeking om te dink: Ek moet self sorg dat daar uitkoms kom u dink nie meer aan die mooi preek waarin u geleer is dat u 'n Vader in die hemel wat vir u sorg nie.

En dit sien ons nou ook gebeur in die lewe van Abram:

So pas, aan die einde van Gen.13, het Abram van die HERE te hore gekry:"...die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid". So pas was Abram dus in die kerk. So pas het hy die blye boodskap gehoor: EK, Ek die HERE, sal die land Kanaän aan jou gee; Ek sal dit doen. So pas het dié woorde uit die mond van die HERE weerklink, of die versoeking kom op hom af om self te verseker dat dié belofte in vervulling te laat gaan.

Wat het dan gebeur? Wel, daar het oorlog in die Midde-Ooste opgevlam.
Daar was 'n sekere Kedor-Laomer, die koning van Elam. Hy het vyf van die stadskoninkies van Kanaän, nl. die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Soar, aan hom onderwerp. Vir twaalf jaar het dié oorheersing geduur, maar in die dertiende jaar het hierdie Kanaänitiese stadstate teen Kedor-Laomer in opstand gekom. Die uiteinde van die konflik was dat Kedor-Laomer en sy bondgenote die konings van Kanaän verpletterend verslaan het. Al die goed en voedsel van Sodom en Gomorra is ook buitgemaak en weggevoer.

Maar wat het Abram met hierdie stryd te make gehad? Wel, u sal sekerlik onthou dat Lot, sy broerskind, in Sodom gaan woon het. Hy is dus ook geraak deur die oorlog, en, inderdaad, in v.12 lees ons:"Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek...". Ag, arme Lot! Hy het agter die begeerte van sy oë aangetrek. Nou het hy dit alles, al sy goed en sy vryheid daarby, verloor. Hoe tydelik en verganklik het die aardse rykdom nie geblyk te wees nie.

En nou kon Abram maklik geredeneer het:" Ja, Lot, jy het baie lelik met my gemaak; jy het eerste gekies al was ek ouer as jy en jy het die beste vir jouself gevat en die slegste vir my gelaat. Nou moet jy maar self sien en kom klaar. Nou help ek jou nie". Is dit nie hoe ons dikwels maak met mense wat ons te na gekom het nie? Abram kon ook geredeneer het:"My liewe Lot, jy het self gekies vir Sodom. Jy het goed geweet wat se slegte stad dit is. Dat jy nou in die moeilikheid is, is jou eie skuld. Sorg nou maar self dat jy daaruit kom". En dink ons nie baie maal ook maar so t.o.v. 'n broeder of suster wat as gevolg van eie skuld in die penarie sit nie?

Maar so maak Abram nie! Hy bly Lot sy broer noem en hy mobiliseer sy manne om Lot te gaan bevry. Abram behaal 'n klinkende oorwinning en Lot word bevry.
Maar nou die VERSOEKING: in die oorwinning het daar vir Abram 'n geweldige versoeking gelê. Hy was naamlik nou in die oë van die Kanaäniete 'n geëerde man. Onder die Kanaäniete het hy nou sekerlik bekend gestaan as Abram die geweldige, die oorwinnaar oor die wêreldryk. In die oë van die Kanaäniete was hy nou iemand wat homself kon handhaaf en homself kon red.

U begryp dat die versoeking groot was. Pas het die HERE aan hom verkondig: EK, Ek die HERE, Ek sal die land Kanaän vir jou gee; Ek sal dit doen. Maar nou was die verleiding vir Abram baie groot om te dink: Ek kan dit self doen.

Dit is iets wat ons almal van nature graag wil: op eie bene staan. Ons wil nie afhanklik wees Ons wil vir onsself sorg. Ons wil self die ewige Kanaän verower met die wapens van ons goeie werke.

Hoe gee die Here nou uitkoms aan Abram? Dit volgende keer.

Oordenking 14

Lees: Gen.13:14-14:24
Teks: Gn.14:18-20
Tema: Hoe God Abram versterk in die versoeking

Die vorige keer het ons gehoor van 'n groot versoeking op Abram se pad: om na sy klinkende oorwinning te dink dat hy magtig genoeg is om vir homself te sorg.
Agter hierdie hele geskiedenis moet u die duiwel aan die werk sien. Hy stuur die koning van Sodom. Hy moet Abram aanmoedig om hierdie onheilige weg te betree om nie meer te leef uit die hand van God alleen nie. Ons lees in v.17 dat die koning van Sodom Abram ontmoet in die Koningslaagte. Dit is Satan se skuif op die skaakbord.

Maar voordat die duiwel tot aksie kan oorgaan, gryp God in. 'n Tweede persoon kom Abram tegemoet: Melgisedek, die koning van Salem. Dit is God se skuif en met die skuif sit hy Satan skaakmat. Ons kan die oorspronklike miskien beter so weergee: die koning van Sodom kom na Abram, MAAR Melgisedek...(v.18). MAAR Melgisedek! Dit is die MAAR van God se reddende, ingrypende genade: voordat sy kneg kan val, steek God sy hand uit in die persoon van Melgisedek. Melgisedek is sy gesant, gestuurde van God.
Wie was hierdie Melgisedek? Daar kan baie oor hom gesê word, maar ek wil volstaan met die opmerking: hy was 'n afbeelding van Christus, 'n heenwysing na die groot Verlosser-koning wat sy volk sou kom red deur homself as priester te offer. Ons Here Jesus is Koning en Priester tegelyk, soos Melgisedek dit ook was.

Ons kan dus gerus sê: Abram het in 'n seker sin 'n ontmoeting met Christus gehad. In die persoon van Melgisedek het hy te staan gekom voor die Seun van God.

Hoe red Melgisedek Abram van die helse verleiding? Dit lees ons in vv.19-20. In die eerste plek seën hy Abram:"Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde". Daarmee vestig Melgisedek Abram se aandag op die seën van God en dat hy alleen danksy die seën van die HERE die land van seën sal beërwe. Met dié daad herinner hy Abram daaraan: alleen die seën van die HERE maak ryk, maak gelukkig. Alleen onder sy seënende hand en danksy sy seënryke bystand en hulp en sal Abram en sal ons Kanaän ontvang.

In die tweede plek kom Melgisedek met 'n lofprysing. Hy maak die HERE groot deur te sê:"En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het". Daarmee sê Melgisedek vir Abram: die oorwinning was nie jou oorwinning nie,maar God s'n; daarom sal jy die land ontvang alleen deur sy hulp....

As Nuwe Testamentiese gelowiges weet ons hoe die HERE die ewige Kanaän vir ons verkry het. Dit was alleen danksy die oorwinning van sy Seun aan die kruis, op die slagveld van Golgota. Daar het Hy die ou slang se kop verpletter. Daardie oorwinning was voluit God se oorwinning en syne alleen. Hy alleen het ons doodsvyande, die sonde, die duiwel en sy ganse ryk, verslaan. Daarom: Geseënd/geloofd is God, die Allerhoogste, wat ons vyand in ons hand gegee het. Soli Deo Gloria - aan God alleen die eer! Hy en Hy alleen, Hy sonder ons, open met sy oorwinning die weg na die hemelse Kanaän.

Oordenking 15

Lees: Gen.13:14-14:24
Teks: Gn.14:18-20
Tema: Abram se antwoord op die versterking in die versoeking

In antwoord op die woorde wat hy gehoor het, gee Abram 'n tiende van alles aan Melgisedek. Beter gesê: hy gee dit aan God. Immers, Melgisedek was die verteenwoordiger van die HERE. Wat wou Abram daarmee sê? Wel, die tiende verteenwoordig die ganse buit en deur die tiende aan God te gee, erken Abram: die hele buit kom U toe, HERE, want die oorwinning is uwe. Hy bely dus dat hy alleen deur God en nie deur eie krag die land sal ontvang. Dit wil die Here ook van ons hê: dat ons aan Hom alleen die eer sal gee vir alles.

Direk na Melgisedek kom die koning van Sodom aan die woord. Hy maak asof hy die eienaar en die besitter van die land is, want hy sê vir Abram:"Gee my die mense, maar neem die goed vir uself".

Hierdie was 'n duiwelse versoeking, want as Abram hier sou toegegee het, sou hy met dié daad erken het dat hy leef uit die hand van die koning van Sodom en nie uit die hand van die HERE alleen nie. Dit was dus niks anders as die versoeking waarmee hy alreeds te make gehad het in 'n ander gewaad nie: die duiwel wil hê dat Abram onafhandlik van God moet leef.

Maar die HERE was die Satan een voor. Is dit nie wonderlik nie? Want voordat die koning van Sodom kon kom met sy misleiding, het die HERE Abram reeds teen die versoeking versterk by monde van Megisedek wat Abram herinner het dat hy alles alleen aan die HERE se seën te danke het.

In sy antwoord aan die koning van Sodom toon Abram dat hy goed na Melgisedek se preek geluister het. Want hy noem die HERE met dieselfde naam as Melgisedek: God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. Daarmee bely Abram: nie die koning van Sodom is die eienaar van alle dinge nie, maar God. Hy is die Allerhoogste, wat beklee is met alle mag. Hy het alles gemaak. Alles is syne en alles kom van Hom af. Hy alleen maak ryk, daarom moet ons in afhandlikheid van Hom lewe.

Ons moet goed verstaan: Abram kon die versoeking net weerstaan het danksy die ontmoeting met Melgisedek. En dit geld ook vir ons: wanneer die Satan ons versoek, kan ons net deur 'n ontmoeting met die groot Melgisedek, Christus, staande bly. Die vraag is dus: Waar ontmoet ons ons Priester-Koning? Die antwoord is nie moeilik nie: Hy kom na ons toe in die Bybel en in die prediking.Begryp u nou hoe belangrik elke kerkdiens en die huisgodsdiens is?

Oordenking 16

Lees: Gen.15:1-6
Teks: Gen.15:1
Tema: Hoogte en laagtepunte in ons geloofslewe.

Ons geloofslewe is nie 'n altyd reguitlopende lyn nie: soms skiet die lyn die hoogte in, om ander kere weer in die diepte af te daal. Ons geloof ken sy hoogte- én sy laagtepunte. Soms bevind ons ons op die kruin van geloofsvreugde en dan weer, net 'n tyd later, ontbreek die heerlike blydskap wat God se teenwoordigheid ons behoort te gee. Soms loop ons oor van geloofsvertrou, sodat ons dit saam met Dawid uitroep:"Want met u loop ek 'n bende storm, en met my God spring ek oor 'n muur". Ander kere word ons geloofslewe weer gekenmerk deur 'n gebrek aan vertroue in die HERE. Dan kan die toekoms vir ons so uitsigloos en donker lyk. Dan lyk dit asof die vyand ons gaan uitroei en die einde naby is vir God se volk en God se kinders.

Hierdie opstygende en neerdalende lyn sien ons ook in die lewe van Abram, die vader van die gelowiges. Want wel is dit so dat Heb.11 hom plaas in die ry van geloofshelde:"Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek". En:"Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer...want hy het gereken (geglo!) dat God mag het om selfs uit die dode op te wek". Daar sien ons dus Abraham se geloof op die kruin: deur die geloof weet hy dat God die mag, die almag het, om selfs die dood , die grootste vyand, te oorwin.

Maar Abram was geen supergelowige wat ver bo ons staan nie. Hy was 'n mens net soos ons. Daarom het hy in sy geloofslewe ook die laagtepunte, die dal van vertwyfeling en wanhoop, die laagte van kleingeloof, geken. En juis daar tref ons hom in die begin van Gn.15 aan.

Wat was dan die probleem? Wel, Abram was bang. Want anders sou die HERE sekerlik nie vir hom gesê het: " Vrees nie, Abram...". Waarvoor was hy dan bang? Om dit te ontdek, moet u mooi let op die begin van ons teks: " Na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom...en gesê: Vrees nie, Abram...". Na hierdie dinge. Na hierdie dinge het Abram bang geword en het die HERE hom opgeroep om nie te vrees nie.Watter dinge was dit? Dit was die gebeure in die vorige hoofstuk: Abram se oorwinning oor die wêreldmoondheid van Kedor-Laomer. Dit was 'n grootse oorwinning. Maar nou het Abram, die dappere, Abram, die groot krygsheld, begin bang word. Waarskynlik het hy begin tob: wat sal gebeur as Kedor-Laomer terugkom? Wat sal gebeur as hy met meer konings teen my saamspan?

Dit is tog eintlik verbysterend dat Abram bang is, nie waar nie? Want het hy dit dan nie pas ervaar hoe die HERE - ja, want dit was tog die HERE se oorwinning ? - het hy dan nie enkele oomblike terug ondervind hoe magtig sy God is en hoe die HERE die vyand in sy hand gegee het nie? Hoe kan daar dan twyfel en vrees by hom wees? Ja, ons sien die geloof van Abram op 'n laagtepunt!

En hoeveel keer sien ons dit nie in die lewe van Israel nie: keer op keer en male sonder tal het die HERE sy volk op luisterryke wyse verlos. En tog: hoevele male het hulle nie gewanhoop en hoevele kere het hulle nie getwyfel en gevrees in die aangesig van hul teenstanders nie!

Maar nou moet ek u waarsku om nie neer te sien om Abram en die gelowiges van die Ou Bedeling nie. Want ons het 'n veel en veel ryker openbaring van God se almag. Ons het kennis van die mees glorieryke oorwinning: die triomf van die Seun van God oor ons grootste vyand, die Satan, op die slagveld van Golgota. Ons weet ook hoe Hy koning Dood ontroon het deur sy opstanding uit die graf. JA, EN TOG!!...DIT ALLES HET ONS,...MAAR hoeveel keer twyfel ONS nie, is ONS bang vir die toekoms en is ONS onseker oor ons voortbestaan as kerk nie? Dan leef ons asof daar nooit 'n kruis was nie en asof daar geen God in die hemel is nie. Daarom het ons geen rede om op Abram neer te sien nie, maar wel alle rede om langs die vader van die gelowiges te gaan staan en die HERE te pleit: kom U ons kleingeloof te hulp!

Volgende keer sal ons sien hoe die HERE Abram en ons in ons kleingeloof te hulp kom.
 

Oordenking 17

Lees: Gen.15:1-6
Teks: Gen.15:1
Tema: Die HERE is ons beskerming.
Die HERE is ons beskerming. En dit sien ons op so 'n heerlike wyse geopenbaar in hierdie geskiedenis: hoe die HERE Abram in die krisis van sy geloofslewe te hulp snel. So is God. Hy raak nie ongeduldig met hom nie. Maar Hy kom na Abram met sy WOORD. Want:"Na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom...". Dié woord, dit is alles. Dié woord moet vir Abram genoeg wees.

En so het God deur die eeue heen sy volk getroos en gesterk: met sy woord. Altyd weer het sy woord weerklink. Want telkens weer hoor ons hoe die HERE tot Israel spreek deur die mond van sy profete. En uiteindelik het God so ver gegaan dat daardie Woord vlees geword het om ons te red en te bewaar: Jesus is gebore! En daarna het die Here sy Woord die wêreld in laat gaan deur sy apostels en evangeliste en met daardie Godswoord moes hulle die gemeentes opbou en versterk in hulle geloof.

Met ons, gelowiges van die twintigste eeu, gaan dit nie anders en handel die Here nie anders nie: met sy Woord daal die Here uit sy hoë hemel neer in die diepte van ons bestaan en in die afgrond van ons ongeloof. Is dit nie 'n ontsaglike groot wonder nie: dat die Allerhoogste Majesteit Hom nog bemoei met mense wat net stof en as is en Hom soveel kere terleurstel, nie? Is dit nie genade om van stil te word nie? Met daardie woord snel Hy ons te hulp en daardie woord, ja, dit kom na ons toe daar by die huis en hier in die kerk. Waardeer u nog sy Woord? Gaan luister u nog daarna? Want, ja, met daardie Woord wil Hy u verlos uit u angs en u vertwyfeling en u kleingeloof. Met daardie Woord wil Hy u geloof versterk en u aandag op Hom en op Hom alleen vestig.

Want met nadruk staan dit in die oorspronklike: " EK, Ek is jou skild...". "EK", die HERE self, Hy is die hart en die sentrum en die middelpunt van die trooswoord wat tot Abram kom. Want die Bybel, die Woord van God, is per slot van rekening nie in die vernaamste plek 'n boek wat ons vertel van die doen en late van mense en van Abram se dade en Dawid en andere se handelinge nie. Dit is die Boek oor God en wat God doen tot heil van sy volk. Dit is die Woord wat ons aan ons verkondig wat Hy vir ons wil wees.
En vir 'n bang Abram, omring aan alle kante deur 'n vyandige wêreld, sê Hy dan ook: " Ek is vir jou 'N SKILD". Dit wil Hy vir sy kind wees: 'n skild ter beskerming. Hierby kan u maar dink aan die skild van 'n soldaat wat die kryger moet beskerm en beveilig teen die pyle en die swaarde van die vyand.

En wat alles nou des te wonderliker maak, is die feit dat die HERE ons nie IETS gee om ons te beskerm nie, maar IEMAND. Ja, Hy gee Homself. Hy wil self daardie skild wees wat tussen ons en die vyandsvuur gaan staan. Hy wil self die pyle afweer en die swaardsteek van die Bose om Hom laat neerkom.

En waar in die Nuwe Testament het ons 'n duideliker bewys dat die Here self - in eie Persoon! - as 'n skild tussen ons en die duiwel wil gaan staan en sy vlammende pyle op Hom wil laat afkom as op Golgota. Want daar het Hy vurige pyle van die Bose trotseer en oorwin. Dit het Hy gedoen om sy volk te verlos. Teen die duiwel het ons daarom geen beter skild as die eie Lam van God en sy bloed nie.

Teen hierdie skild vermag al die aanklagte van die Satan niks nie. Daarom, wanneer die duiwel u beskuldig en u wil laat twyfel oor u verlossing, hou dan as skild op teen sy aanvalle: die skild van Golgota, die eie Seun van God. En roep Satan toe: my Lam, my Jesus, het volkome betaal vir al my sondes. Daarom kan jou pyle en jou aanklagte my nie deer nie.

Voor sy hemelvaart het ons Here Jesus verder aan sy kerk belowe dat Hy met sy almag met ons wil wees. En is dit nie 'n besondere gedagte nie: die almagtige Koning van die kerk soos 'n skild rondom ons! Troos dié skild u?

Neem die skild van die geloof op, sê Paulus in Efesiërs. Daarmee bedoel hy nie dat die geloof self so magtige verdedigingsmiddel is nie. Ag nee! Ons geloof is so swak. Maar met die hand van die geloof neem u God self, die skild van die gelowige, op. En dan is u so veilig as wat maar kan kom, want dan gaan u skuil agter God self.

Oordenking 18

Lees: Gen.15:1-6
Teks: Gen.15:1
Tema: Die HERE ons rykdom.

U sal sekerlik onthou dat die koning van Sodom, na die oorwinning van Abram oor Kedor-Laomer, aangebied het dat Abram maar die buit kon neem. Maar dié loon het Abram van die hand gewys. Die koning van Sodom mag nooit sê: hy het Abram rykgemaak, nie. Hy wou nie leef uit die hand van mense nie, maar uit die hand van die HERE alleen.

Was Abram miskien spyt dat hy die loon afgewys het? Dit is moontlik dat die duiwel hom in die verband probeer versoek het. Geld en besittings lok ons immers so. Dit is vir ons so baie belangrik, nie waar nie? Heel dikwels word dit vir ons selfs belangriker as God self.
In hierdie geloofsversoeking kom die HERE Abram te hulp, weer met sy woord. Hy doen dit altyd met sy woord. Daarom is dit so belangrik dat ons dié woord sal beluister. In sy woord sê God dan vir sy kneg: " EK, Ek self, Ek is jou uitermate grote loon". So kan ons die woorde ook vertaal.

By die skild het ons dit alreeds gesien: nie IETS is ons skild nie, maar IEMAND, die HERE self. En hier is dit weer so: die loon wat God ons belowe, is nie iets nie, maar IEMAND. Dit is Hy self. Die HERE self is ons loon, ons rykdom, ons kosbaarste besit. Dat Hy ons God en Vader wil wees - dit is 'n weelde wat met niks ter wêreld vergelyk kan word nie.

So was dit ook gesteld met die digter van Ps.73. As hy God maar het, dan kan hy alle ander dinge maar mis, want:
"...DIS my goed, my saalge lot,
 ( dit nl.:)as ek naby is by my God".

En as Paulus dit het oor die wederkoms, dan is dit juis vir hom die onbeskryflik heerlike daarvan: dat hy dan altyd by die Here sal wees.

Ek dink baie mense is net christene ter wille van dit wat hulle daaruit kan kry: gesondheid, besittings, voorspoed, ens. En as hulle dit nie kry nie, is hulle terleurgesteld in die christelike godsdiens. Die fout wat dié mense maak, is dat hulle die christelike geloof veront-persoonlik. Dit draai vir hulle net om iets, iets wat hulle kan kry daaruit. Maar dit rym tog nie: die bruid verlang immers nie na die besittings van die bruidegom nie, maar na die bruidegom self in eie persoon? Nie die goed van God nie, maar die God van die goed - Hy is die vernaamste! Na Hom moet ons hoogste verlange wees en juis daarom het Christus gekom: om ons weer by God te bring en om alles tussen ons en God weer reg te maak. Dit is die kern van ons geloof. Is dit vir u ook die vernaamste?

Vir Abram was die woord van die HERE besonder troosvol. Maar hy het tog nog 'n probleem gehad: die nageslag, die saad, wat die HERE aan hom beloof het.
 Want hy en sy vrou was al oud en nog het hulle nie 'n kind van hul eie gehad nie.
Miskien dink: wat het dit met die loon te make waarvan God gepraat het? ALLES! Dit het alles daarmee te doen. Want immers: uit die nageslag, uit die saad van Abram sou dié Saad, die Christus, gebore word, in wie al die geslagte van die aarde geseën sou word. Die Seun van God, self God, Hy is ons loon, ons uitermate groot loon. Want Hy - God in eie persoon dus - HY is ons verlossing. EN ons weg na die Vader. EN ons Bruidegom. As ons Hom het, het ons alles. Dan het ons God. Na daardie loon , die koms van die groot Saad, het Abram ook uitgesien.

Dit is wonderlik hoe die HERE Abram se geloofstwyfel te hulp kom. Eerstens herhaal Hy sy belofte van 'n groot nageslag. Maar daarby gee Hy Abram ook 'n teken: die sterre aan die hemel. So ontelbaar, sê Hy vir Abram, " so sal jou nageslag wees".
So het God sy volk se kleingeloof met tekens te hulp gekom. Ook ons ontvang twee tekens: die doop en die nagmaal. En beide beeld God se loon aan ons af. Want immers, in die doop word God self (!), die Vader en die Seun en die Heilige Gees aan ons belowe. En waarborg die doop en die nagmaal nie dat die Verlosser - die rykste loon denkbaar - ook vir ons bedoel is en beloof word nie?
 

Oordenking 19

Lees: Gen.15:7-21
Teks: Gen.15:17,18
Tema: Die oordeel van die verbond

Aan die begin van hierdie hoofstuk sien ons Abram se geloofslewe op 'n laagtepunt. Hy is bang, bevrees vir die vyand. Hy dink nie meer daaraan hoe wonderlik die HERE hom gehelp het teen die wêreldmag van Kedor-Laomer nie. Maar hoe wonderlik goed is die HERE nie: Hy verwyt hom nie oor sy kleingeloof nie, maar met sy Woord - met die Bybel kan ons maar sê - troos Hy sy kneg en Hy sê aan hom: Ek is jou beskerming. En as Abram dan nog twyfel oor God se belofte dat hy 'n groot nageslag sal kry, gee die HERE hom, by sy beloftewoord, ook 'n teken: die sterre aan die hemel. So is ons God: In ons geestelike stryd laat Hy ons nie alleen nie, maar met sy Woord snel Hy ons kleingeloof te hulp. En boonop gee Hy ons ook tekens om ons geloof in sy beloftes te ondersteun: die doop en die nagmaal.

Is Abram se geloof nou weer sterk? Ag, dit moes so gewees het, want hoe heerlik het God Hom nie aan sy kind geopenbaar nie. En tog sien ons Abram nog steeds wankel. Want aan die begin van ons voorgelese gedeelte hoor ons hoe die HERE die ander belangrike belofte aan Abram herhaal, die aangaande LAND VAN BELOFTE. Maar kyk dan na Abram se antwoord op hierdie woord: " Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?" Weer so vraag so vol van twyfel en ongeloof.

Ag, ons is maar nie beter as die vader van die gelowiges nie. Want hoeveel male twyfel ons nie aan God se beloftes nie, en dit ondanks die feit dat die HERE op so 'n onuitspreeklik grootse wyse sy liefde en sy trou aan ons bewys het op Golgota nie.

Maar kyk hoeveel moeite die HERE met Abram doen: Die hoë God rig 'n verbond op met die klein mensie, sodat ons sal weet: sy belofte aan ons, die belofte van Kanaän, die hemelse Kanaän, dit is vas en seker. Dit lê onwankelbaar vas in die genadeverbond wat die troue Verbondsgod met ons sluit.

Verbondsluitings was aan die orde van die dag in daardie tyd. Dit was deel van die internasionale politiek. So het Grootkonings wat 'n Kleinkoning oorwin het, 'n verbond met die Kleinkoning gesluit. In dié verbond het die Grootkoning sekere dinge belowe, maar hy het ook 'n aantal eise gestel. Die Kleinkoning moes trou bly aan die verbond.
Sulke verbonde het voorts gepaardgegaan met 'n slagseremonie: 'n aantal diere is middeldeur gesny en die helftes is teenoor mekaar geplaas. Tussen die twee heftes het dus 'n pad geloop, 'n straat van bloed. Op daardie pad moes die twee partye in die verbond loop, die Groot- en die Kleinkoning. Dan moes beide van hulle verklaar: " Ek mag soos hierdie diere in twee gesny word as ek die verbond nie hou nie. Daarby het hulle die gode as getuies aangeroep en die verbond met 'n eed bevestig. Van so 'n verbond lees ons ook in Jer.34.

En nou ons tekshoofstuk: toe Abram van die HERE die opdrag ontvang het om die diere in twee te sny en die helftes teenoor mekaar te plaas, het hy dadelik, as kind van sy tyd, geweet waaroor dit gaan: die HERE wil 'n verbond met my sluit! Hy was ook terdeë daarvan bewus: die dooie diere spreek van die straf op verbondsbreuk.

Miskien het die vrae ook deur sy kop gemaal: maar hoe kan die belofte van die verbond, die belofte van die land, ooit waar word as dit van my afhang en van my trou aan die verbond? En toegepas op ons: hoe sal God se verbondsbeloftes aan ons, die belofte van die ewige Kanaän en die nuwe Jerusalem, ooit in vervulling gaan as dit afhang van ons trou aan God se verbondseise. Want as ons eerlik wil wees, moet ons erken: ons oortree sy gebooie dikwels. Daarom verdien ons ook niks anders nie as om met die oordeel van God getref te word nie.

Maar God sy dank! Die vervulling van sy beloftes hang nie van ons af nie. Dit hang nie aan die draad - erger, veel erger as 'n sydraad -, dit hang nie aan die draad van ons goeie werke en ons inspanning en ons moeite nie…Maar daaroor volgende keer.

Oordenking 20

Lees: Gen.15:7-21
Teks: Gen.15:17,18
Tema: Die belofte van die verbond

Die belofte waaroor dit hier gaan, is die land Kanaän, wat Abram as erfenis van die HERE sou ontvang. Natuurlik wys hierdie belofte na veel meer. Ons mag daarin 'n heenwysing en 'n belofte van die ewige en die volmaakte, ja die hemelse Kanaän sien.

Inderdaad 'n grootse, heerlike belofte! Maar hoe ontvang ons nou deur die verbond wat God met ons sluit SEKERHEID dat ons die vervulling van die belofte sal ontvang? As ons dit soek in ons eie werke, in ons ywer vir die kerk, in die gehalte van ons geloof, of wat ook al, sal ons nooit sekerheid hê nie. Immers, ons beste were is met sonde bevlek en ons geloof skiet ver, ja ver, tekort.

Maar in hierdie geskiedenis word die wonder van die verbond aan ons geopenbaar. Want ons aandag word nie gevestig op Abram en wat Abram doen om die belofte vervulling te verseker nie. Ons oog word gevestig op wat God doen om die vervulling van sy beloftes vas en seker te stel.

Want by die sluit van ander verbonde was dit so dat beide partye in die verbond tussen die stukke deurgegaan het. Daarmee het altwee dan gesweer: mag ek in stukke gekap word soos hierdie diere indien ek die verbond verbreek, ja mag die straf van die verbond my tref.

MAAR kyk nou wat het gebeur in die verbond wat God met Abram gesluit het: Wie het hier tussen die stukke deurgegaan? Was dit Abram én God? Was dit beide die partye in die verbond? Nee, Abram het gelê en slaap! DIT is daarom die oorweldigende, die evangelie van hierdie gedeelte: God self en Hy alleen gaan tussen die stukke deur in die gedaante van 'n rokende oond en 'n vurige fakkel!

Daarmee word hierdie blye boodskap aan ons verkondig: die HERE verklaar dat HY liewer in stukke gekap wil word, indien Hy die belofte van die verbond nie nakom nie. Hy neem dus die volle verantwoordelikheid vir die verbond en die instandhouding en die vervulling van die verbond op sy skouers. Dit sluit dus ook die OORDEEL oor verbondsbreuk in.

En is dit nie presies wat gebeur het op Golgota nie? Daar het sy Seun immers ons oordeel gedra!

Dit beteken uiteraard nie dat ons heeltemal niks hoef te doen nie. Inteendeel, rondom die verbondsluiting sien ons die vader van die gelowiges in aksie: want nadat hy die diere in stukke verdeel het, moes hy die roofvoëls wat op die dooie diere afgekom het, wegjaag. Dié roofvoëls is hier beeld van die vyande wat die tekens van die verbond en die verbond self in gevaar wil bring. Dit doen die Satan, die groot vyand van die kerk, vandag nog deur middel van dwaalleer en minagting van die tekens van die verbond, naamlik die doop en die nagmaal. As hy ons maar net so ver kan kry om nie op Christus alleen , op God se werk alleen , vir saligheid te vertrou nie, dan het hy geslaag. Dit is daarom ons taak om te waak teen enige Jesus-plus teologie. Daarmee bedoel ek: 'n leer of prediking waarin aan ons geleer word om nie net op Jesus alleen nie, maar ook vir 'n gedeelte op ons eie goeie werke te vertrou vir ons saligheid. Ons moet onsself voortdurend ondersoek en onsself afvra: vertrou ek op Jesus alleen vir my verlossing? Doen u dit nog?

Oordenking 21

Lees: Gen.17:1-14; 22:1-14
Teks: Gen.17:14; 22:13
Tema: Die HERE self sorg vir die vervulling van die verbond

In Genesis 17 kom die besnydenis ter sprake. Dit was ‘n seremonie wat eintlik maar dieselfde betekenis gehad het as die een in Genesis 15. Daar het ons gesien dat Abram die diere in twee moes sny en dat daardie gebruik gesimboliseer het: ek mag so, soos daardie diere, in twee gesny word, as ek die verbond verbreek. Hier in hoofstuk 17 kry ons nou weer ‘n seremonie met ‘n mes: ‘n klein velletjie van die manlike geslagsorgaan moet met ‘n mes afgesny word. Daardie klein velletjie het die hele mens gesimboliseer. Daarom het die seremonie van die besnydenis gesê: die hele mens mag afgesny – met die oordeel getref word – as hy die verbond nie hou nie. So staan dit letterlik in vers 14: “En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie - dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei (letterlik: uitgesny) word: hy het my verbond verbreek”.
En nou hoofstuk 22: die hoofstuk het alles met Genesis 15 en 22 te make. In al drie gaan dit om ‘n seremonie met ‘n mes. Maar daar is nog ‘n ander verband ook: die straf waarmee gedreig is in hoofstuk 15 en 16, die afsny van die verbond, moet nou hier in vervulling gaan. Isak, kan ons sê, verteenwoordig die kerk. Geen mens kan die verbond hou nie. Daarom moet Isak – en in hom die ganse kerk, u en ek – uitgesny word. Daarom lig Abraham die oordeelsmes op om sy seun te slag….!

Maar…dan gebeur ‘n wonder: ‘n stem uit die hemel keer Abraham: “Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer.

Die Engel van die HERE waarvan hier sprake is, is die eie Seun van God in sy Ou Testamentiese verskyningsvorm. Jesus verhoed dus dat sy volk met die oordeel van die verbond getref word.

Maar dit is nie al nie: die ram is ‘n heenwysing na Christus wat in ons plek geoffer is. In Jesaja 53:8 staan daar “dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes”. Daar het ons weer die woordjie “afsny”, maar hierdie keer is dit die Kneg van die HERE, ons Here Jesus, wat afgesny word.

Wat ‘n wonder is dit nie, ‘n wonder om ons oor te verwonder. Verwonder ons ons nog oor die evangelie van Christus se plaasvervangende lyding? Gryp dit ons nog aan? As ons gelowig begryp wat op Golgota gebeur het en dat die Seun van God met ons plekke geruil het, sal ons ons verwonder.