Oordenking 1

Lees: 1 Petrus 2:4-10
Teks: 1 Petrus 2:4-5
Tema: Hoe 'n kerk lewend word

Daar word vandag nogal gekla: die kerk is so dood; daar gaan so min aan; daar is so weinig lewe in die kerk.

Daarom wil ek in hierdie en in die volgende oordenking aan die hand van 1 Petrus 2:4-5 met u stilstaan by die tema: 'n lewende kerk.

Wanneer die apostel Petrus van die kerk praat, gebruik hy die beeld van 'n gebou. Die kerk is 'n tempel. Ons kan ook maar sê: dit is 'n paleis. En daarin woon geen gewone koning nie, maar die Koning van alle konings, die Here.

Voor die koms van Christus was daar al 'n tempel in Jerusalem. Dit was in die tyd van Salomo. Met die ballingskap is dié tempel verwoes, maar met die terugkeer is 'n nuwe tempel gebou. Beide hierdie tempels was tempels van steen.

En nou, eeue later, praat Petrus weer van 'n tempel, naamlik die kerk. Net soos die tempels in die Ou Testament is ook hierdie een 'n paleis van God. Die Here self woon deur sy Heilige Gees in die kerk (1 Kor.3:16,17). Wat egter nou so wonderlik is aan hierdie Nuwe Testamentiese tempel is die feit dat dit nie uit gewone stene bestaan nie, maar mense is die stene. Hulle moet lewende stene wees. Wat beteken dit? Kom ek sê dit voorlopig maar so: ons moet lewende lidmate wees. Dan is ons lewende stene. In die tweede oordenking kom ek breedvoeriger daarop terug.

Nou gaan dit vir my om die vraag: hoé kan ons lewende stene wees, mense wat werk, wat leef vir God en sy kerk? Die geheim word aan ons onthul in vers 4: "Kom na Hom toe, die lewende steen…". Benewens die stene waarvan ons alreeds gehoor het, die gelowiges, hoor ons dus van nog 'n steen. Dit is Jesus Christus, onse Here. Hy is die hoeksteen van die gebou. Op Hom verreis die hele kerk tot 'n wonderskone gebou.
"Kom na Hom toe…", beveel die apostel Petrus. Daarmee bedoel hy: glo in Hom. Leef vanuit sy offer, sy skuldbetaling, sy oorwinning. Kom in sy tempel saam om na sy lewegewende Woord te luister.

Want dit is nou so wonderlik aan hierdie steen: Hy het nie alleen lewe in Homself nie, maar Hy gee ook lewe aan die ander stene. Hy maak die res van die gebou lewendig. Dit sien ons in die volgende vers, vers 5. Eers was daar in vers 4 die bevel om na die lewende steen te kom en dan laat Petrus in vers 4 die vrug sien van die kom na Jesus toe: daar verreis 'n gebou van lewende stene.

Hier het ons die diepste geheim van lewe in die kerk: dit is eers na Jesus toe gaan. En Hy en Hy alleen maak ons 'n tempel van lewende stene.
En hierin lê die diepste oorsaak van die doodsheid van die kerk vandag. Mense wil nie meer na Jesus toe kom, na sy tempel om na sy Woord te luister nie. Die Christus-prediking het verskraal en verarm tot 'n prediking waarin ons hoor wat ons moet doen. Daarenteen behels die ware prediking: hoor wat het Hy gedoen. Hoor hoe het Hy ons lewend gemaak van die dood van die misdade en die sonde.

Maar wanneer ons dan deur die geloof ingeplant is in wat Hy gedoen het, Hy wat die weg en die waarheid en die LEWE is, dan begin ons ook iets doen. En dit is waaroor ons volgende keer sal nadink.
 


Oordenking 2



Lees: 1 Petrus 2:4-10
Teks: 1 Petrus 2:4-5
Tema: Wat 'n lewende kerk doen.

Dit sê die apostel in vers 5:

Ons word 'n geestelike huis, dit wil sê: 'n huis wat beheers word deur die Gees van Christus.

Maar kenmerkend van 'n tempel hoor ons nou ook van priesters en offers. Die gelowiges is nie alleen stene nie, maar ook priesters, ampsdraers wat offers bring vir die Koning van die tempel.

Daar het ons dus die antwoord op die vraag: wat moet ons doen? Ons moet priesters wees, mense wat offers bring.

Tog bly dit nog 'n vraag: wat behels hierdie offers? Die antwoord is nie moeilik nie. Ons kan vers 9 as 'n kommentaar op vers 5 beskou. Daar hoor ons wat ons priesterlike taak is: ons is geroep as priesters "om te verkondig die deugde van Hom" wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderlike lig. Daarin word die Here bo alles verheerlik: wanneer ons mense vertel van die Verlosser.

Ons lewe as gelowiges is 'n prediking tot ander. En dan nie alleen in woorde nie. Ons preek ook in ons dade. In Romeine 12 sê Paulus naamlik: stel julle liggame as 'n lewende offer. In die vervolg spel hy ook uit wat hy daarmee bedoel: ons offer ons liggame as lewende offers vir die Here, wanneer ons lief is vir mekaar, wanneer ons as kerk ons eenheid uitleef.
Maar weer 'n keer vra ek die vraag van ons eerste hoofpunt: hoe kan ons sulke priesters wees? En vir die tweede keer kom Petrus terug op die sleutel, wanneer hy in vers 5 afsluit met die woorde: "deur Jesus Christus". Hy het begin met Jesus en nou eindig hy ook weer met Jesus. Jesus is vir hom alles. Hy maak ons lewende stene. Deur Hom is ons ook priesters wat geestelike offers bring wat aan God welgevallig is.

Met geestelike offers bedoel hy: offers beheers deur die Heilige Gees. Anders gestel: eers wanneer ons ons deur die Gees van Christus laat regeer en lei, kom daar in ons lewe lewe. Dan begin ons leef vir God en leef vir ons naaste. Die Gees herskep ons deur die Woord, dit wil sê deur Jesus, deur sy kruisoffer. Deur die krag van die kruis word ons ander mense.
Ons Here Jesus Christus is die geheim van 'n lewende kerk. 'n Kerk wat Hom preek en na Hom toe kom en leef uit sy lewewekkende, herskeppende Woord, kan nooit dood wees nie.